Amokloop van Kauhajoki
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die amokloop van Kauhajoki was 'n skietvoorval in die voormalige Finse provinsie van Wes-Finland wat op 23 September 2008 by die Seinäjoki-universiteit van Toegepaste Wetenskap plaasgevind het.[1] Die amokloper was die 22-jarige voormalige student Matti Juhani Saari wat tien mense met 'n Walther P22-semi-outomatiese pistool doodgeskiet het en daarna homself in die kop geskiet het. Hy het enkele ure later in die Tampere-universiteitshospitaal aan sy wonde beswyk.[2] Een vrou is beseer en was in 'n stabiele toestand gelaat.[3][4]
Die skietvoorval het plaasgevind by die Kauhajoki-skool van Gasvryheid wat deur die Seinäjoki Munisipale Federasie van Onderwys besit is.[5] Die fasiliteite en kampus is deur die Seinäjoki-universiteit van Toegepaste Wetenskap en die Seinäjoki-beroepsonderwyssentrum (SEDU) gedeel.[5] Saari was 'n tweedejaarstudent in 'n baccalaureusgraadprogram van gasvryheidsbestuur.[6] Die voorval was die tweede amokloop by 'n skool in minder as twee jaar in Finland, na die amokloop van Jokela in November 2007 waarin nege mense insluitende die amokloper gesterf het. Voor laasgenoemde voorval was daar slegs een ander amokloop by 'n skool in die land se geskiedenis, naamlik die amokloop van Rauma in 1989 waarin twee mense gesterf het.[7]