Alternative für Deutschland
From Wikipedia, the free encyclopedia
Alternative für Deutschland (AfD) is 'n regse[1] tot verregse[2] politieke party in Duitsland. Die AfD is in April 2013 gestig en het aanvanklik op een beleidsonderwerp gefokus - die omstrede reddingsplan vir die Europese geldeenheid, die euro, wat deur die party summier verwerp is. In die federale verkiesing van daardie jaar kon die AfD nie daarin slaag om die drempel van 5% van die stemme te haal om die Bundestag te betree nie. In 2014 wen die party sewe setels in die Europese verkiesing as lid van die Europese Konserwatiewes en Reformiste. Die AfD is tans in alle 16 deelstaatparlemente verteenwoordig, en in die federale verkiesing van 2017 word dit die derde grootste party in Duitsland nadat dit 94 setels in die Bundestag wen. Die party se voorsitter is Jörg Meuthen en sy leidende kandidate in die federale verkiesing van 2017 was mede-adjunkvoorsitter Alexander Gauland en Alice Weidel, wat nou die party se groepsleier in die Bundestag is. Sedert 2017 is die AfD die grootste opposisieparty in die Bundestag.
Die party neem 'n restriktiewe standpunt ten opsigte van immigrasie in en beywer hom vir 'n behoudende maatskaplike beleid. Aangesien baie aanhangers van ver-regse ideologieë hulle tot die AfD aangetrokke voel, huldig die uiteenlopende politieke strominge binne die partygeledere dikwels teenstrydende standpunte. Politieke teenstanders wys daarop dat die party geen antwoorde op brandende politieke kwessies soos Duitsland se behuisingskrisis het nie.
As deel van sy buitelandse beleidsprogram pleit die AfD vir nouer betrekkinge met die Russiese Federasie en die erkenning van Jerusalem as hoofstad van Israel (insluitende die verskuiwing van die Duitse ambassade van Tel Aviv na Jerusalem). Interessant is die AfD die enigste groot party in Duitsland wat ten opsigte van hierdie kwessie 'n pro-Israelse standpunt inneem.