voortydige beëindiging van 'n swangerskap From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Aborsie of vrugafdrywing is die voortydige beëindiging van 'n swangerskap, voor die embrio kan ontwikkel of die fetus (baba) gebore kan word. Aborsies kan spontaan plaasvind, meestal omdat iets tydens die swangerskap verkeerd gegaan het. Wanneer dit gebeur, word dit 'n miskraam genoem. Mense kan ook 'n swangerskap doelbewus beëindig. Dit staan as opsetlike vrugafdrywing of geïnduseerde aborsie bekend. Die term aborsie verwys mees algemeen na laasgenoemde. Die soortgelyke prosedure, as die fetus reeds op sy eie kan oorleef, word medies gesproke die "laat beëindiging van swangerskap" genoem.[3]
Aborsie | ||
Klassifikasie en eksterne bronne | ||
ICD-10 | O04 | |
ICD-9 | 779.6 | |
DiseasesDB | 4153 | |
MedlinePlus | 002912 | |
eMedicine | article/252560 | |
MeSH | D001161 | |
Mediese waarskuwing |
Onveilige aborsies is wêreldwyd vir ongeveer 47 000 sterftes[4] en die hospitalisasies van 5 miljoen moeders[5] per jaar verantwoordelik. Die grootste rede hiervoor is die omstandighede waaronder dit uitgevoer word; dikwels omdat dit onwettig plaasvind. Oor die hele wêreld word ongeveer 44 miljoen aborsies per jaar uitgevoer, waarvan byna die helfte op onveilige wyse geskied.[6]
Aborsie in die ontwikkelde wêreld het 'n lang geskiedenis as een van die veiligste mediese prosedures, gegewe dat dit in ooreenstemming met plaaslike wetgewing geskied.[7][8] Ongekompliseerde aborsies veroorsaak nie langtermyn geestelike of fisiese probleme nie.[4] Die wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat dieselfde vlak van veilige en wettige aborsies vir alle vroue wêreldwyd beskikbaar gestel word.[9] Teen 2008 het veertig persent van die wêreld se vroue toegang tot wetlike aborsies gehad, ongeag die rede daarvoor. Daar is egter steeds perke ten opsigte van hoe lank na die swangerskap dit uitgevoer mag word.[10]
Opsetlike vrugafdrywing is sedert antieke tye reeds met metodes soos kruie, die gebruik van skerp gereedskap, fisiese trauma, en ander tradisionele metodes toegepas. Moderne medikasie of chirurgiese metodes kan vir geïnduseerde aborsies gebruik word. Medikasie soos Mifepristone en Prostaglandin is tydens die eerste trimester net so effektief as chirurgiese metodes.[11][12] Terwyl die gebruik van medikasie in die tweede trimester effektief kan wees, blyk dit dat chirurgiese metodes 'n laer risiko vir newe-effekte inhou.[13] Geboortebeperkings, soos die pil en ander toestelle, kan onmiddellik na 'n aborsie gebruik word.[12]
In lande waar aborsie gekriminaliseer is het vroue hul sedert die 1980s dikwels gewend tot middels wat oor die toonbank vir ander kwale verkry kan word, maar wat 'n miskraam as newe-effek kan meebring. Belangstelling in Misoprostol en Mifepristoon, middels wat deur die Amerikaanse Food and Drug Administration goedgekeur is, het byvoorbeeld skerp toegeneem in die deelstaat Texas nadat aborsies so vroeg as die sesde week van swangerskap in 2021 daar verbied is.[14] Die aanlyn-bystandsdiens Aid Access het in twee jaar meer as 57 000 versoeke van Amerikaanse vroue ontvang om hierdie middels per pos te ontvang. Aborsies deur medikasie maak in die VSA, Indië en Swede onderskeidelik een derde, 73% en 93% van alle aborsies uit.[14]
Wetgewing rondom aborsies, hoe dikwels hulle uitgevoer mag word, asook hul kulturele en godsdienstige status wissel grootliks tussen verskillende wêrelddele. In baie lande bestaan daar prominente openbare omstredenheid oor die morele, etiese en regskwessies van aborsie.[15]
Opsetlike vrugafdrywing is in baie lande onwettig, maar by bepaalde uitsonderings word dikwels tog toelaat, veral in gevalle soos bloedskande, verkragting, ernstige fetale defekte of as die moeder se gesondheid op die spel is.[16]
Diegene wat teen aborsie is argumenteer algemeen dat 'n embrio of fetus 'n mens is, wat die reg het om te lewe. Hulle vergelyk aborsie dikwels met moord.[17][18] Diegene wat aborsie ondersteun beklemtoon meestal die vrou se reg om sake rakende haar eie liggaam te reël, asook menseregte in die algemeen.[19]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.