From Wikipedia, the free encyclopedia
12P/Pons-Brooks is 'n kortperiodekomeet met 'n wentelperiode van 71 jaar. Komete met 'n wentelperiode van 20-200 jaar word Halley-tipe komete genoem. Dit is een van die helderste bekende kortperiodekomete en bereik 'n absolute magnitude van sowat 5 terwyl dit sy perihelium (kleinste afstand van die Son af) nader.[2] Komeet Pons-Brooks is in Julie 1812 in die Marseilles-sterrewag deur Jean-Louis Pons ontdek, en met sy volgende verskyning in 1883 deur William Robert Brooks.[4] Daar is antieke rekords van komete wat vermoedelik verskynings van 12P/Pons-Brooks was.
12P/Pons-Brooks soos afgeneem op 7 Maart 2024. | |
Ontdekking | |
---|---|
Ontdek deur: | Jean-Louis Pons William Robert Brooks |
Ontdekkingsdatum: | 12 Julie 1812 |
Alternatiewe name: | 1812; 1884 I; 1954 VII;[1] C/1457 A1 ; C/1385 U1 [2] |
Wenteleienskappe A | |
Epog: | 2024-05-10[3] |
Afelium: | 33,616 AE |
Perihelium: | 0,78078 AE |
Halwe lengteas: | 17,199 AE |
Eksentrisiteit: | 0,95460 |
Wentelperiode: | 71,32 jaar |
Baanhelling: | 74,191° |
Sy volgende perihelium is op 21 April 2024,[5] en dit sal op 2 Junie 2024 die naaste aan die Aarde wees: 1,55 AE (232 miljoen km).[6] Die komeet sal na verwagting 'n skynbare magnitude van 4,5 bereik.[7] Die komeetkern se deursnee word op sowat 30 km geraam.[8]
12P/Pons-Brooks is vermoedelik die oorsaak van die swak meteoorreën κ Draconides in Desember wat van omstreeks 29 November tot 13 Desember aktief is.[9]
12P/Pons-Brooks word geïdentifiseer as 'n komeet wat in 1385 en 1457 waargeneem is. In 1385 is dit deur die Chinese opgeteken en dit is ook in sommige Europese bronne genoem. 'n Komet wat in Januarie 1457 deur Paolo dal Pozzo Toscanelli gesien en in Chinese bronne genoem is, word ook as komeet 12P/Pons-Brooks geïdentifiseer. In albei verskynings het die komeet 'n magnitude van 3 of helderder gehad, sonder inagneming van enige moontlike uitbarstings. Dit kon moontlik ook 'n komeet gewees het wat in September 245 in Chinese bronne genoem word.[2]
Komeet 12P/Pons-Brooks is op 12 Julie 1812 deur Jean-Louis Pons ontdek. Dit is op 1 Augustus dieselfde jaar onafhanklik deur Vincent Wisniewski waargeneem, en op 2 Augustus deur Alexis Bouvard. Dit is op 13 Agustus met die blote oog gesien en teen die einde van die maand is 'n stert van 2 grade lank aangeteken.[10] Kort ná sy aanvanklike ontdekking is geraam dit het 'n wentelperiode van sowat 70 jaar, met 'n foutmarge van 5 jaar. Johann Franz Encke het 'n definitiewe wentelperiode van 70,68 jaar bepaal. Dié periode is gebruik om die verskynings van 1883 tot 1884 te voorspel.[10]
Op 2 September 1883 is 'n dowwe komeet deur William Robert Brooks ontdek en dit is later geïdentifiseer as die komeet van 1812.[10] 'n Uitbarsting is van 21 tot 23 September 1883 waargeneem; die komeet het van 'n skynbare magnitude 10-11 toegeneem tot 8-8,5 en sy voorkoms het verander van uitgesprei tot steragtig.[11] Die komeet het op 20 November met die blote oog sigbaar geword en verhelder tot magnitude 3. Dit het op 1 en 19 Januarie 1884 uitbarstings ondergaan.[10] Dit is in Junie 1884 die laaste keer gesien.[10]
Die komeet is op 20 Junie 1953 weer gesien toe dit 4,5 AE van die Son af was.[10] Dit het op 1 Julie 1953 verhelder van skynbare magnitude 18 tot 13. In Maart 1954 was daar nog 'n uitbarsting.[12] Op 23 April is die komeet se magnitude geraam op 6,4, en sy stert was 'n halwe graad lank.[12] Pons-Brooks het op 22 Mei 1954 sy perihelium bereik[7] toe dit 1,7 AE van die Aarde af was. Ná sy perihelium het dit sigbaarder uit die Suidelike Halfrond geword. Dit is die laaste keer gesien op 4 September 1954, toe dit 1,9 AE van die Son af was.[12]
Op 10 Junie 2020 is Pons-Brooks weer gesien deur die Lowell-teleskoop op 'n sigbare magnitude van 23 toe dit verby die wentelbaan van Saturnus, op 11,9 AE (1,78 miljard km) van die Son af, was.[13][8] Dit het op 20 Julie 2023 'n uitbarsting ondergaan toe dit 3,9 AE van die Son af was: Dit het van skynbare magnitude 16-17 tot magnitude 11-12 verhelder.[14][15]
Die uitbarsting het daartoe gelei dat die komeet 'n hoefysteragtige koma gehad het. Dit is moontlik veroorsaak deur die vrylating van miljarde kilogramme stof en ys in die ruimte in.[16] Teen 5 Augustus het die deursnee tot 600 000 km vergroot, met 'n uitbreidingstempo van 220 m/s. Hoewel die koma aanvanklik sferies was, het dit asimmetries geword weens die uitwerking van die stralingsdruk op die stof.[17]
Op 5 Oktober 2023 was daar weer 'n uitbarsting, van magnitude 15 tot magnitude 11.[18] Nog twee uitbarstings is op 1 November en 14 November waargeneem, en daarna het die komeet se helderheid toegeneem tot 'n skynbare magnitude van 9,3.[19] Uitbarstings is ook op 14 Desember[20] en 18 Januarie 2024 waargeneem.[21]
Teen middel Februarie het die komeet tot 'n magnitude van 7,5 verhelder en 'n ioonstert van omtrent 2 grade lank ontwikkel met strale en filamente.[22] 'n Klein uitbarsting het op 29 Februarie plaasgevind, toe die komeet met 0,9 magnitudes verhelder het.[23][24]
Teen 7 Maart het die komeet verhelder tot 'n magnitude van 5,5, toe dit sowat 10 grade van die Andromeda-sterrestelsel af was.[25] Oor die volgende dae is aangemeld dat die komeet met die blote oog gesien kan word en 'n stert van 5 grade lank gehad het.[23]
Nog 'n uitbarsting het op 3 April plaasgevind, toe die komeet tot 'n magnitude van omtrent 3,8 toegeneem het.[26] Daar sal op 8 April 'n sonsverduistering in sekere dele van die wêreld te sien wees, wanneer die komeet 25 grade van die Son af is.[27]
Die komeet se perihelium is op 21 April 2024, op 0,781 AE (116,8 miljoen km) van die Son af.[5] Die naaste afstand aan die Aarde sal 42 dae later op 2 Junie 2024 wees: 1,55 AE (232 miljoen km) .[6]
Met perihelium sal die komeet se magnitude verhelder tot sowat 4,5 (omtrent 400× helderder as die uitbarsting in Julie 2023).[7]
Die komeet se afelium (verste punt van die Son af) is net anderkant die wentelbaan van Neptunus op 33,6 AE (5,03 miljard km). Met 'n groot baanhelling van 74,2° bestee die komeet nie baie tyd naby die sonnebaan nie. Die Jet Propulsion Laboratory (JPL) se webtuiste wys dat tussen die jare 1900 en 2200 is die komeet die meeste deur Saturnus ontwrig op 29 Julie 1957. Dit is toe binne 1,6 AE vaan die planeet af by hom verby, en selfs dié afstand het min invloed gehad.[1]
Die komeet se wentelbaan tussen 1740 en 2167 lyk stabiel, met geen sterk ontwrigtings deur enige planeet nie.[10]
Voor die herontdekking in 2020 was die laaste waarneming in 1954, en Kinoshita het bereken die komeet sal op 10 Augustus 2095 weer perihelium bereik.[31] Ná die waarnemings van 2020-2023 word die volgende perihelium bereken op 15 August 2095.[32]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.