Piëmont
From Wikipedia, the free encyclopedia
Piëmont (Italiaans: Piemonte [pjeˈmonte]; Piëmontees en Oksitaans Piemont; Frans: Piémont) is volgens sy oppervlakte van 25 402 km2 die tweede grootste van Italië se twintig administratiewe geweste (ná Sisilië) met 'n bevolking van 4,4 miljoen. Die hoofstad en grootste nedersetting is Turyn. Die gewes, wat in die noordweste van Italië geleë is, word administratief verdeel in die provinsies Alessandria, Asti, Biella, Cuneo, Novara, Torino (Turyn, as città metropolitana of metropolitane stad met provinsiale status), Verbano-Cusio-Ossola en Vercelli.
Wapen en vlag | |
---|---|
Algemene gegewens | |
Hoofstad: | Turyn |
Administratiewe verdeling: | 8 provinsies |
Oppervlakte: | 25 387,07 vk km |
Bevolking: | 4 430 014 (30 Julie 2014) |
Bevolkingsdigtheid: | 174,5 inwoners per vk km |
Webwerf: | www.regione.piemonte.it |
ISO 3166-2: | IT-21 |
President: | Alberto Cirio (FI) |
Kaart | |
Die gewes se naam verwys na sy geografiese ligging aan die voet van die Alpereeks. Dit het sy oorsprong in die Middeleeuse Latynse naam Pedemontium of Pedemontis, 'n afleiding van ad pedem montium ("aan die voet van die berge"). In die suide, weste en noorde van Piëmont vorm die Liguriese Appenyne saam met die See-, Cottiese, Grajiese en Penniniese Alpe 'n magtige boog wat die gewes, behalwe vir die gebiede oos van die Poriviervallei, omsluit. Die Poriviervallei is die hartland van Piëmont en behels sommige van die vrugbaarste landboustreke in Italië wat deur die Po en sy syriviere Dora Baltea, Dora Riparia, Sesia, Tanaro en Scrivia van water voorsien word.
Intensiewe landbou word ook in die heuwellandskappe van Monferrato en Langhe suid van die Porivier beoefen, terwyl die voetheuwels van die Alpe met twee bekende mere, Lago Maggiore en Lago d'Orta, vir toerisme ontsluit is.
Reeds in die antieke tydperk was Piëmont van strategiese belang omdat die bergpasse in die gebied die Romeinse provinsies Italia en Gallië met mekaar verbind het. Later het die streek onder Langobardiese en Frankiese bewind gekom, maar dit was die Huis van Savoje wat as vasalle en opvolgers van die markiese van Ivrea en Turyn gaandeweg as die onbetwiste heersers in Piëmont verrys het. In die vroeë 15de eeu het die dinastie oor 'n uitgestrekte gebied aan weerskante van die Alpe geheers wat naas Piëmont ook groot dele van die huidige Frans-Savoje ingesluit het.
In die 18de eeu het die Huis van Savoje nie net oor die hele Piëmont geheers nie, maar sy heerskappy ook uitgebrei na Sardinië en afhanklike gebiede. Gedurende die sogenaamde Risorgimento – die 19de eeuse beweging vir Italiaanse onafhanklikheid – het Piëmont in 1848, 1859 en 1866 'n leidende rol by die pogings gespeel om alle Italiaanse deelstate in 'n gemeenskaplike koninkryk te verenig. In 1861 het Viktor Emmanuel II, wat oorspronklik as koning van Piëmont en Sardinië gekroon is, die eerste monarg van heel Italië geword.