Letlanders
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Letlanders (Lets: latvieši, Lyfs: leţlizt) of Lette is 'n Baltiese nasie en etniese groep inheems aan Letland wat 'n gemeenskaplike Letse afkoms, kultuur en geskiedenis deel, en Lets as moedertaal praat. Alternatiewelik is Letlanders diegene wat in Letland woon of in Letland gebore is.
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Lets.
Letlanders | |
---|---|
Totale bevolking: | ca. 1,55 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | Letland 1,2 miljoen[1] Verenigde State 82 053[2] |
Taal: | Lets |
Geloofsoortuiging: | Hoofsaaklik Christendom (Lutheranisme • Rooms-Katolieke Kerk • Oosters-Ortodokse Kerk), Dievturība |
Verwante etniese groepe: | Ander Baltiese volke soos Litauers; Baltiese Duitsers |
Letlanders vorm die titulêre nasie van Letland, waar hulle sowat 62% van dié land se bevolking uitmaak. Naas Letlanders leef nog minderhede soos Russe (26%), Wit-Russe (3,4%), Oekraïners (2,3%), Pole (2,1%) en Litauers (1,3%) in Letland; 'n historiese minderheid vorm die Baltiese Duitsers wat na die Tweede Wêreldoorlog veral in Duitsland gevestig het.
Wêreldwyd leef sowat 1,55 miljoen Letlanders, waarvan 1,2 miljoen in Letland, 82 053 in die Verenigde State, 39 000 in die Verenigde Koninkryk, 27 752 in Duitsland, 27 355 in Kanada, 25 000 in Brasilië, 20 593 in die Republiek van Ierland, 20 124 in Australië, 20 068 in Rusland en 20 000 in Nieu-Seeland.
Die Letlanders behoort saam met Litauers tot die Baltiese volke, terwyl Estlanders tot die Fins-Oegriese volke behoort en Fins-Oegriese tale praat. Die meeste Letlanders is Christene, veral Lutherane, Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse; gevolg deur ongebonde.