Identiteitskrisis
From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Identiteitskrisis is in sielkunde die versuim om ’n eie identiteit tydens adolessensie te ontwikkel.[1][2] Die term is deur die Duitse sielkundige Erik Erikson uitgedink.
Adolessente gaan deur ’n stadium waartydens hulle fisieke groei en seksuele rypwording in die gesig staar, asook die integrasie van idees oor hulleself en wat ander van hulle dink.[3] Adolessente ontwikkel dus hulle selfbeeld en gaan deur die krisis om hulle basiese eie identiteit, of ego-identiteit, te vorm. Die sukses daarvan hang af van die adolessent se vordering deur vorige ontwikkelingstadiums, wat sentreer om kwessies soos vertroue, afhanklikheid en inisiatief.[3]
Erikson se eie belangstelling in identiteit het in sy kinderjare begin. As ’n Asjkenasiese Jood het hy soos ’n buitestander gevoel. Sy latere studies onder Indiane van Noord-Kalifornië en Suid-Dakota het hom gehelp om idees oor identiteitsontwikkeling en -krisisse te formuleer. Erikson beskryf mense wat deur ’n identiteitskrisis gaan as dat hulle verwarring toon.[2]