Boek van Jubileë
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Boek van Jubileë, soms Klein Genesis genoem, is ’n antieke Joodse godsdiensgeskrif met 50 hoofstukke wat deur die Ethiopies-Ortodose Kerk en Beta Israel (Ethiopiese Jode) as kanoniek beskou word. Hulle noem dit die Boek van Verdeling (Ge'ez: መጽሃፈ ኩፋሌ Mets'hafe Kufale). Protestantse, Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse kerke beskou dit as ’n pseudepigraaf (’n boek wat aan iemand anders as die werklike skrywer toegeskryf word).[1] Buite Beta Israel word dit ook nie in Judaïsme as kanoniek beskou nie.
Dit was goed onder vroeë Christene bekend, soos blyk uit die geskrifte van Epifanius, Justin Martyr, Origenes, Diodorus van Tarsus, Isidorus van Alexandrië, Isidorus van Sevilla, Johannes Malalas en Georgios Kedrenos. Die teks is ook gebruik deur die gemeenskap wat aanvanklik die Dooie See-rolle versamel het. Geen volledige weergawe in Grieks of Latyn het sover bekend behoue gebly nie, maar die Ge'ez weergawe blyk ’n akkurate vertaling te wees van die weergawes in die Dooie See-rolle.
Die Boek van Jubileë behandel Genesis 1 tot Eksodus 12, soos na bewering deur engele aan Moses onthul is terwyl hy 40 dae en 40 nagte op Berg Sinai was.[2] Die chronologie wat in Jubileë aangegee word, is gebaseer op veelvoude van sewe; die jubileë is tydperke van 49 jaar (sewe "jaarweke") waarin alle tyd ingedeel is.