Bloedlating
From Wikipedia, the free encyclopedia
Bloedlating is die onttrekking van bloed van 'n pasiënt om 'n siekte te voorkom of genees. Bloedlating, óf deur 'n geneesheer óf deur bloedsuiers, is gebaseer op 'n antieke mediese praktyk waarin bloed en ander liggaamsvloeistowwe as "humores" beskou is en in balans moes wees om goeie gesondheid te verseker. Dit was na bewering die algemeenste mediese praktyk van antieke tye tot laat in die 19de eeu, 'n tydperk van meer as 2 000 jaar.[1]
In Europa was die praktyk redelik algemeen tot aan die einde van die 19de eeu.[2] Die praktyk is in moderne tye laat vaar buiten in 'n paar spesifieke mediese gevalle.[3] In verreweg die meeste historiese gevalle van bloedlating was dit nadelig vir die pasiënt.[4]
Vandag verwys die term flebotomie na die trek van bloed vir laboratoriumontleding of 'n bloedoortapping.[5] "Terapeutiese flebotomie" verwys na die trek van 'n eenheid bloed in spesifieke gevalle om die getal rooibloedselle te verminder.[6][7] Die tradisionele mediese praktyk van bloedlating word vandag as 'n skynwetenskap beskou.[8]