Antioksidant
Antioksidant is ’n molekule wat die oksidasie van ander molekules stuit / From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Antioksidant is ’n molekule wat die oksidasie van ander molekules stuit. Oksidasie is ’n chemiese reaksie wat vrye radikale kan voortbring en dit kan lei tot kettingreaksies wat selle kan beskadig. Antioksidante soos tiols of askorbiensuur (vitamien C) beëindig hierdie kettingreaksies. Die term "antioksidant" word vir hoofsaaklik twee verskillende groepe stowwe gebruik: nywerheidschemikalieë wat by produkte gevoeg word om oksidasie te keer, en natuurlike chemikalieë wat in voedsel en liggaamsweefsel aangetref word en na bewering gesondheidsvoordele het.
Om die oksidatiewe toestand te balanseer, handhaaf plante en diere komplekse stelsels van oorvleuelende antioksidante, soos glutatioon en ensieme (byvoorbeeld katalase en superoksieddismutase) wat intern vervaardig word of die dieet-antioksidante: vitamien A, vitamien C en vitamien E.
Dieetaanvullings met antioksidante verbeter nie gesondheid en is nie doeltreffend in die voorkoming van siektes nie, soos bewys in proefnemings. Aanvullings van betakaroteen, vitamien A en vitamien E, apart of in verskillende kombinasies toegedien, het geen invloed op sterftesyfers[1][2] of die risiko vir kanker nie.[3][4] Aanvullings met seleen of vitamien E verlaag nie die risiko vir hartbloedvatsiektes nie.[5][6] Oksidatiewe stres kan beskou word as óf die oorsaak óf die gevolg van sekere siektes.
Nywerheidsantioksidante het uiteenlopende gebruike, soos as preserveermiddels in voedsel en grimering en as oksidantinhibeerders in brandstof.[7]