versamelnaam vir die vrugblare van 'n blom From Wikipedia, the free encyclopedia
Ginesium is ’n versamelnaam vir die dele van ’n blom wat die saadknoppe vervaardig en eindelik in die vrug en saad ontwikkel. Dit is die middelste deel van die blom wat uit een of meer stampers kan bestaan en word omring deur die voortplantingsorgane wat die stuifmeel vervaardig: die meeldrade, wat saam die meeldraadkrans genoem word.
Daar word dikwels na die ginesium verwys as die "vroulike" deel van die blom, hoewel dit nie regstreeks vroulike gamete (eierselle) vervaardig nie;[1] dit vervaardig megaspore, waarvan elkeen in ’n vroulike gametofiet ontwikkel, en laasgenoemde vervaardig dan die eierselle.
Blomme wat ’n ginesium het, maar nie ’n meeldraadkrans nie, word vroulike blomme genoem, en blomme sonder ’n ginesium word manlike blomme genoem.
Die ginesium kan uit een of meer stampers bestaan. ’n Tipiese stamper bestaan uit ’n paar afsonderlike dele: ’n uitgebreide basale deel wat die vrugbeginsel genoem word, ’n lang deel bekend as die styl en ’n apikale struktuur wat die stuifmeel opvang, die stempel.
Die stampers van die blom bestaan uit vrugblare. Dié is aangepaste blare en bevat saadknoppe, waarin die eierselle eindelik vorm. ’n Stamper kan uit een vrugblaar bestaan, met sy vrugbeginsel, styl en stempel, of verskeie vrugblare kan vergroei wees om een vrugbeginsel te vorm.
Hoewel baie blomme se vrugblare aan bogenoemde beskrywing voldoen, is daar ook blomme wat nie vrugblare volgens dié definisie het nie omdat die saadknoppe in sulke blomme direk aan die kruin gedra word en eers later in die vrugblaar toegevou word.[4][8]
Die mate waarin die vrugblare vergroei is, wissel. Hulle kan net by die basis vergroei wees met aparte style en stempels, of heeltemal vergroei wees met net aparte stempels. Soms is vrugblare se style of stempels vergroei, maar hulle het aparte vrugbeginsels.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.