Iblis of Iblies (Arabies: إبليس) is die duiwel in Islam. Hy is ook bekend as Sjaitan (شيطان, Shayṭān). Hy is ’n djin wat geweier het om voor Adam neer te kniel[1] en toe uit die Paradys gewerp is.

Die belangrikste doel van Satan is om mense en djins aan te moedig om bose dade te verrig deur hulle te verlei; dit word in die Koran "bose influisteringe" genoem.[2] Satan en sy gevolg is die helpers van dié wat nie in Allah glo nie: "Ons het waarlik die duiwels vriende gemaak van die ongelowiges."[3]

Name

Thumb
’n Voorstelling van Iblis in "Die Shahnama van sjah Tahmasp.

Die naam Iblis kan van die Griekse woord διάβολος (diábolos) stam, wat ook die aanvanklike bron van die Afrikaanse woord "duiwel" is. Dit kan ook afgelei wees van die Arabiese werkwoordstam بَلَسَ (balasa, "hy het gewanhoop").[4] Die naam Sjaitan het dieselfde oorsprong as die Hebreeuse שָׂטָן (Sātān), ook die bron van "Satan" in Afrikaans.

In die Islam word Sjaitan dikwels bloot as "die duiwel" vertaal, maar die term kan ook verwys na enige djin wat God nie gehoorsaam nie en Iblis volg.[5]

Die val van die duiwel in Islam

Volgens basiese Islamitiese leerstellings het God drie soorte intelligente wesens geskape: engele, djins en mense, van wie die laasgenoemde twee ’n vrye wil het om tussen goed en kwaad te kies.[6][7] Volgens die Koran is daar ook ander, onbekende wesens: "En Hy het ook dinge geskape waarvan julle nie weet nie."[8]

Die engele, wat rein en sonder dierlike drange is, sondig nie. Nadat God vir Adam geskape het, het hy al die engele en Iblis (wat God saam met die engele mag aanbid het danksy sy hoë rang) opdrag gegee om voor Adam neer te kniel (prostreer).[9] Al die engele het dit gedoen, maar Iblis het geweier. Hy was trots en het homself hoër as Adam geag omdat Adam uit klei gemaak is en Iblis uit "rooklose, vlammende vuur".[10][11]

Daarna is hy van God se genade ontneem weens sy arrogante ongehoorsaamheid.[12] God het hom hierna uit Djanna (die paradys) na Djahannam (die hel) verban en hom Satan genoem. Hy wou hom ook straf, maar Iblis het God gesmeek om die straf uit te stel tot die Oordeelsdag. Sy versoek is toegestaan.[13]

Satan het toe gesweer hy sal dié tyd gebruik om alle mans en vroue na die hel te lei. So sal hy die mens se minderwaardigheid bewys en sy eie ongehoorsaamheid regverdig. In soera 17:65 van die Koran waarsku God hom egter: "My dienaars – oor húlle het u voorwaar geen gesag nie. En u Heer is voldoende as Beskermer."[12]

Verwysings

Bronne

Eksterne skakels

Wikiwand in your browser!

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.

Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.