From Wikipedia, the free encyclopedia
Simonsbaai is ‘n groot beskutte baai in die Kaapse Skiereiland.
Hierdie baai vorm die mees westelike punt van Valsbaai met aan die oostekant van die baai die Roman Rockvuurtoring. Dit word beskerm teen die suidooste- sowel as die suidsuidoostewinde en teen alle ander winde deur die omringende berge. Aan die baai lê Simonstad.
Simon van der Stel het die gebied in 1687 besoek om ondersoek in te stel of die baai geskik is as winterhawe aangesien Tafelbaai in daardie seisoen geteister word deur die noordwestewinde. Die VOC-skip Pallas is op 2 Augustus 1737 die eerste skip wat in die baai skuiling soek, omdat so baie van die opvarendes siek was aan skeurbuik. Vanaf 1741 is die baai gereeld as tydelike winterhawe gebruik, slegs twee jaar later is ‘n militêre pos hier gevestig en het dit die VOC se amptelike winterhawe vir sy skepe aan die Kaap die Goeie Hoop geword. Toe is die naam van die baai verander van Yselsteinbaai na Simonsbaai. In 1765 is selfs ‘n hospitaaltjie ingerig. Tydens die Bataafse bewind is ‘n kaai van klip gebou, maar die eerste werklike hawe-ontwikkeling het plaasgevind na die Britse oorname van die Kaap.
Simonsbaai is berug vir sy haaie. Matrose van die Royal Navy was slegs toegelaat om te baai op areas wat teen haaie beskerm is. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog was hier ‘n Boere-krygsgevangekamp en het een van die Boerekrygers op 30 Julie 1901 in ‘n haai-aanval omgekom.
Verskeie wrakke lê in die baai versprei. Die Nederlandse skip Katwijk aan den Rijn het op 7 Oktober 1786 hier gesink. Op 2 Junie 1792 het die skip Drie Gebroeders dieselfde lot getref. Die Nederlandse skip Bato is op 8 Januarie 1806 tydens die Slag van Blauwberg met opset aan die brand gesteek en gekelder.
Die Britse skip Phoenix het op 19 Julie 1829, die Brasiliaanse skip Rowvonia op 13 Januarie 1850, die Amerikaanse skip Parama op 9 Oktober 1862 en die Britse skip SS Clan Stuart het op 21 November 1914 hier vergaan. HMS Pelorus is op 19 November 1994 gekelder.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.