planetêre newel in die sterrebeeld Lier From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Ringnewel (ook bekend as Messier 57 en NGC 6720) is geleë in die sterrebeeld Lier.[1] Dit is ’n goeie voorbeeld van ’n planetêre newel en bestaan uit ’n dop geïoniseerde gas wat weggeskiet is deur ’n rooireus wat deur die laaste stadium van sy evolusie beweeg het om ’n witdwerg te word.
Ringnewel | ||||
Messier 57, die Ringnewel. (Bron: Nasa/STScI/AURA) | ||||
Soort newel | Planetêre newel | |||
Sterrebeeld | Lier | |||
Messier-naam | Messier 57 | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 18h 53m 35,079s | |||
Deklinasie | +33º 01' 45,03" | |||
Skynmagnitude (m) | 8,8 | |||
Absolute magnitude (M) | -0,2+0,7−1,8 | |||
Besonderhede | ||||
Afstand (ligjaar) | 2 300 | |||
Skynbare grootte | 230″ × 230″ | |||
Massa | 0,2 M☉ | |||
Ander name | ||||
Messier 57, NGC 6720, GC 4447 | ||||
|
Dit is in Januarie 1779 deur die Franse sterrekundige Antoine Darquier de Pellepoix ontdek.
De Pellepoix het met die ontdekking van die newel in Januarie 1779 berig dit is "so groot soos Jupiter en lyk soos ’n planeet wat wegkwyn". Later dieselfde maand het nog ’n Franse sterrekundige, Charles Messier, die newel onafhanklik ontdek terwyl hy op soek was na komete en hy het dit in sy katalogus van komeetagtige voorwerpe opgeneem. Messier en die Duits gebore William Herschel het gespekuleer dat die newel gevorm word deur talle dowwe sterre wat nie deur ’n teleskoop onderskei kon word nie.[2][3]
In 1800 het die Duitser Friedrich von Hahn aangekondig dat hy die dowwe ster in die middel van die newel ’n paar jaar tevore ontdek het. Hy het gesê die binnekant van die ring het intussen verander en hy kon nie meer die sentrale ster vind nie.[4] In 1864 het die Engelse amateur-sterrekundige William Huggins die spektrums van verskeie newels bestudeer en ontdek dat party van hulle, onder meer M57, spektrums het van helder emissielyne wat eie is aan fluoresserende gloeiende gasse. Hy het die afleiding gemaak dat die meeste planetêre newels nie uit sterre bestaan soos voorheen vermoed is nie, maar dat hulle newelagtige gebiede is.[5][6]
Die Ringnewel is in 1886 vir die eerste keer gefotografeer deur die Hongaarse sterrekundige Eugene von Gothard.[4]
Messier 57 is geleë suid van die helder ster Vega, wat die noordwestelike punt van die Somerdriehoek-asterisme vorm. Die klein, hoekige newelskyf het ’n grootte van 1,5 × 1 boogminute en moet dus met ’n groter teleskoop bestudeer word.[7]
M57 is 2 300 ligjare (700 parsek) van die Aarde af. Dit het ’n skynbare magnitude van 8,8. Foto's wat oor ’n tydperk van 50 jaar geneem is, wys [8] die newel brei uit teen rofweg 1 boogsekonde per eeu. Dit word verlig deur ’n sentrale witdwerg of kern met ’n skynbare helderheid van 15,75 mag[9] en ’n massa van sowat 1,2 M☉ (sonmassas).
Al die binneste dele van die newel het ’n blou-groen tint wat veroorsaak word deur die dubbelgeïoniseerde suurstofemissielyn by 495,7 en 500,7 nm. Dit word net gesien in toestande van baie lae digtheid.
In die buitenste rand van die newel word deel van die rooierige tint veroorsaak deur waterstofemissies by 656,3 nm. Verbode lyne van geïoniseerde stikstof of N II dra by tot die roeierigheid by 654,8 en 658,3 nm.[8]
In die afgelope 2 000 jaar het die sentrale ster van die Ringnewel sy rooireusfase agtergelaat nadat hy sy voorraad waterstof opgebruik het. Dit produseer nie meer energie deur kernfusie nie en verander nou in ’n kompakte witdwerg.
Die newelkern bestaan nou hoofsaaklik uit koolstof en suurstof met ’n dun buitenste laag van ligter elemente. Sy massa is sowat 0,61–0,62 sonmassa, met ’n oppervlaktemperatuur van 125 000 ± 5 000 Kelvin. Dit is tans 200 keer so helder soos die Son, hoewel sy skynbare magnitude net 15,75 is.[9]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.