Taoïsme
From Wikipedia, the free encyclopedia
Taoïsme, ook bekend as Daoïsme, is ’n godsdiens- of filosofiese tradisie van Chinese oorsprong met die klem op ’n lewe in harmonie met die Tao (Chinees: 道, letterlik die "Weg"; pinyin-spelling: Dao). Die Tao is ’n basiese idee in die meeste Chinese filosofiese skole; in Taoïsme dui dit egter op die beginsel wat die bron, patroon en wese is van alles wat bestaan.[1][2] Taoïsme het parallel aan Confucianisme en Boeddhisme ontwikkel. Dié drie strominge het gesamentlik die grondslag van Neo-Confucianisme gevorm. Taoïsme verskil van Confucianisme deur nie klem te lê op ’n rigiede rituele en sosiale orde nie.
Taoïstiese etiek wissel van skool tot skool, maar in die algemeen word klem gelê op wu wei (optrede sonder inspanning), "natuurlikheid", eenvoud, spontaniteit en die Drie Skatte: 慈 meegevoel, 儉 "matigheid" en 不敢為天下先 "ootmoed".
Taoïsme dateer van minstens die 4de eeu v.C. Vroeë Taoïsme het sy kosmologiese idees gekry van die Skool van Yinyang (Naturaliste), en is grootliks beïnvloed deur een van die oudste geskrifte van die Chinese kultuur, die Yijing, wat ’n uiteensetting gee van ’n filosofiese stelsel oor hoe om menslike gedrag in ooreenstemming met die wisselende siklusse van die natuur te hou. Die Daodejing, ’n kompakte boek wat leringe bevat waarvoor Laozi (vroeër Lao-tsoe) die eer kry, word wyd beskou as die hoeksteen van die Taoïstiese tradisie, saam met die latere Zhuangzi, die werk van Zhuangzi (vroeër Tsjoeang-tsoe).
Teen die tyd van die Han-dinastie (206 v.C. tot 220 n.C.) is die verskeie bronne van Taoïsme verenig in ’n samehangende tradisie van godsdienstige organisasies en ordes in die staat Shu (die moderne Sichuan). In die China van vroeër is Taoïste beskou as hermiete of kluisenaars wat nie aan die politieke lewe deelgeneem het nie. Van hulle was Zhuangzi die bekendste, en dit is betekenisvol dat hy in die suide gewoon het, waar hy deel was van die plaaslike sjamanistiese tradisies.[3] Vroeë Taoïstiese bewegings het hul eie instellings ontwikkel in teenstelling met sjamanisme, maar het basiese sjamanistiese elemente opgeneem.[4] Institusionele ordes van Taoïsme het in verskeie rigtings ontwikkel; in moderne tye kan dit in twee hooftakke verdeel word: Quanzhen- en Zhengyi-Taoïsme.[5] Ná Laozi en Zhuangzi het die geskrifte van Taoïsme geleidelik aangegroei en is dit in die vorm van ’n kanon saamgestel: die Daozang. Deur die Chinese geskiedenis is Taoïsme verskeie kere as ’n staatsgodsdiens benoem, maar ná die 17de eeu het dit in onguns geraak.
Vandag is die Taoïstiese tradisie een van die vyf amptelik erkende leerstellings in die Volksrepubliek van China en Taiwan. Dit vind ook aanklank in ander gemeenskappe,[6] veral Hongkong, Macau en Suidoos-Asië.