T20I-wêreldbeker 2024
internasionale kriekettoernooi / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2024 (Engels: 2024 ICC Men's T20 World Cup) is van 1 tot 29 Junie 2024 in die Verenigde State en Wes-Indië beslis.[3] Dit was die negende T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste kriekettoernooi ooit in die Verenigde State, terwyl Wes-Indië voorheen die 2010-toernooi aangebied het. Daarbenewens was die Verenigde State die eerste medegasheer in die Amerikas buite Wes-Indië.[4] Die vyf Karibiese eilandstate Antigua en Barbuda, Barbados, St. Lucia, St. Vincent en die Grenadine en Trinidad en Tobago, asook Guyana en die Verenigde State het gesamentlik opgetree as gashere van dié toernooi, meer as by enige ander T20I-wêreldbekertoernooi. Dit was ná die Krieketwêreldbeker 2007 en die T20I-wêreldbeker 2010 die derde groot kriekettoernooi in Wes-Indië.
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2024 | |
Datums | 1 Junie – 29 Junie |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Eerste rondte, Super Agt en uitklopfase |
Gashere | Verenigde State Wes-Indië |
Kampioen | Indië (2de titel) |
Naaswenner | Suid-Afrika |
Deelnemers | 20 (83 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 55 |
Speler van die reeks | Jasprit Bumrah |
Meeste lopies | Rahmanullah Gurbaz (281)[1] |
Meeste paaltjies | Fazalhaq Farooqi Arshdeep Singh (17 elk)[2] |
← 2022 2026 → |
Die T20I-wêreldbeker 2024 was die eerste toernooi met 20 deelnemende nasionale krieketspanne, teenoor die 16 van die vorige vier T20I-wêreldbekertoernooie. Die 20 deelnemende nasionale krieketspanne was: Die twee gashere (die Verenigde State en Wes-Indië), die agt beste spanne van die vorige toernooi (Australië, Engeland, Indië, Nederland, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Suid-Afrika), saam met die twee naasbeste spanne op die T20I-ranglys soos op 14 November 2022 (Afghanistan en Bangladesj) en die wenners van die kontinentale kwalifiseringstoernooie.[5] In Julie 2023 het Ierland en Skotland die twee Europese plekke bepreek, terwyl Papoea-Nieu-Guinee die Oos-Asiatiese-Stille-Oseaan-plek bespreek het. In Oktober 2023 het Kanada as Amerikaanse kwalifiseerder gevolg en een maand later Nepal en Oman as Asiatiese kwalifiseerders, asook Namibië en Uganda as Afrikakwalifiseerders. Engeland was die verdedigende wêreldkampioen nadat hulle die T20I-wêreldbeker 2022 gewen het.
Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 is 55 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die eerste rondte, twaalf in die Super Agt, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna gekwalifiseer vir die Super Agt, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet het. Elke wedstryd het bestaan uit 20 boulbeurte per span. Die agt beste spanne van die T20I-wêreldbeker 2024 het saam met die twee gashere van die 2026-toernooi regstreeks gekwalifiseer vir die volgende T20I-wêreldbeker 2026 in Indië en Sri Lanka.
Afghanistan, Engeland, Indië en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Suid-Afrika het Afghanistan en Indië het Engeland geklop, waardeur Indië en Suid-Afrika mekaar in die eindstryd ontmoet het. Indië het Suid-Afrika in die eindstryd op die Kensington-ovaal in Bridgetown, Barbados, met sewe lopies verslaan en sodoende ná 2007 sy tweede T20I-wêreldbekertitel ingepalm. Die gashere die Verenigde State en die tweemalige wenner Wes-Indië is in die Super Agt uitgeskakel.