T20I-wêreldbeker 2016
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2016 (Engels: 2016 ICC World Twenty20) is van 8 Maart tot 3 April 2016 in Indië beslis. Dit was die sesde T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Destyds is dié toernooi Wêreldtwintig20 2016 genoem, maar sedert die 2021-toernooi staan dit as T20I-wêreldbeker bekend.[3] Die manstoernooi is gelyktydig met die vrouetoernooi gehou en beide die halfeindrondte en die eindstryde van albei toernooie is op dieselfde dag op dieselfde stadions gespeel. Ná die 2012-toernooi in Sri Lanka en die 2014-toernooi in Bangladesj was dit die derde agtereenvolgende T20I-wêreldbekertoernooi in ’n Asiatiese land.
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2016 | |
Datums | 8 Maart – 3 April |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Eerste rondte, Super Tien en uitklopfase |
Gashere | Indië |
Kampioen | Wes-Indië (2de titel) |
Naaswenner | Engeland |
Deelnemers | 16 (24 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 35 |
Speler van die reeks | Virat Kohli |
Meeste lopies | Tamim Iqbal (295)[1] |
Meeste paaltjies | Mohammad Nabi (12)[2] |
← 2014 2021 → |
Die toernooi se formaat van 2014 het onveranderd gebly en 16 nasionale krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2016 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die wenners van die kwalifisering (Afghanistan, Hongkong, Ierland, Nederland, Oman en Skotland). Tydens die T20I-wêreldbeker 2016 is 35 wedstryde gespeel, waaronder twaalf in die eerste rondte, 20 in die Super Tien en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die agt beste spanne op die IKR se T20I-ranglys soos op 30 April 2014 het aan die Super Tien deelgeneem, terwyl die laer geplaasde spanne saam met die kwalifiserende spanne in die eerste rondte gespeel het. Die agt spanne wat aan die eerste rondte deelgeneem het, is in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die beste span van elke groep het hierna vir die Super Tien gekwalifiseer. In die Super Tien is die spanne in twee groepe van vyf spanne elk verdeel, waarvan die twee beste spanne tot die halfeindrondte gevorder en die wenners van hierdie wedstryde in die eindstryd ontmoet het.
Engeland, Indië, Nieu-Seeland en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Engeland het Nieu-Seeland en Wes-Indië het die gasheer Indië geklop, waardeur vir die tweede keer in dié toernooi se geskiedenis geen Suid-Asiatiese span die eindstryd gehaal het nie. Wes-Indië het Engeland in die eindstryd op Eden Gardens in Kolkata met vier paaltjies verslaan en sodoende die eerste span geword om twee T20I-wêreldbekertitels in te palm. Daarbenewens het Wes-Indië die eerste krieketland geword wat die T20I-wêreldbeker vir beide mans en vroue op dieselfde dag gewen het, nadat die vrouespan onmiddellik voor die mansspan die verdedigende wêreldkampioen Australië geklop het. Die verdedigende wêreldkampioen Sri Lanka en Suid-Afrika is in die Super Tien uitgeskakel.