Sandy Hook Elementêre Skool-skietvoorval
2012 skoolslagting in Newtown, Connecticut, Verenigde State / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Sandy Hook Elementêre Skool-skietery het op 14 Desember 2012 in Newtown, Connecticut, Verenigde State plaasgevind, toe die 20-jarige Adam Lanza 26 mense doodgeskiet het. Twintig van die slagoffers was kinders tussen ses en sewe jaar oud, en die ander ses was volwasse personeellede. Lanza het vroeër daardie dag, voordat hy skool toe gery het, sy ma by hul huis in Newtown doodgeskiet. Toe eerste hulppersoneel by die skool aankom, het Lanza deur selfmoord gesterf en homself in die kop geskiet.
Die voorval is in 2023 nog die dodelikste massaskietery in die geskiedenis van Connecticut, en die dodelikste massaskietery by 'n laerskool in die geskiedenis van die VSA. Dit is ook die tweede dodelikste skoolskietvoorval in die VSA, en die vierde dodelikste massaskietery algeheel.[1][2] Die skietvoorval het tot hernieude debat oor wapenbeheer in die Verenigde State gelei, insluitend voorstelle om die agtergrondkontrolestelsel universeel te maak, en vir nuwe federale en staatswapenwetgewing wat die verkoop en vervaardiging van sekere soorte semi-outomatiese vuurwapens en magasyne verbied wat meer as tien rondtes ammunisie kan hou. Daar het niks van hierdie voorstelle gekom nie weens die invloed van die wapenregte-voorspraakgroepe in Amerika.
’n Verslag van November 2013 wat deur die Connecticut-staatsprokureur se kantoor uitgereik is, het tot die gevolgtrekking gekom dat Lanza alleen opgetree het en sy optrede beplan het, maar het geen aanduiding gegee waarom hy dit gedoen het, of hoekom hy die skool geteiken het nie. ’n Verslag wat in November 2014 deur die Office of the Child Advocate uitgereik is, het gesê dat Lanza Aspergersindroom gehad het en as tiener depressie, angs en obsessief-kompulsiewe versteuring gehad het, maar tot die gevolgtrekking gekom het dat hulle “nie sy moorddadige dade veroorsaak of gelei het nie”. Die verslag het verder gesê, "sy ernstige en verslegtende geïnternaliseerde geestesgesondheidsprobleme [...] gekombineer met 'n atipiese beheptheid met geweld [...] (en) toegang tot dodelike wapens [...] het as 'n resep vir massa moord gedien."[3]