Reëlaar
From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Reëlaar is 'n outomatiese apparaat wat gebruik word om ʼn proses op die gewenste manier te laat verloop. Reëlaars werk gewoonlik proporsioneel, dit wil sê dit bring veranderings mee wat eweredig is aan die verskil tussen die werklike en die vereiste toestand in 'n stelsel.
Reëlaars vorm deel van die reëlkring in 'n proses of stelsel. Die reëlaar is gewoonlik gekoppel aan 'n meetapparaat en is so ingerig dat dit die gemete waarde (bedryfspunt) met die gewenste waarde (instelpunt) kan vergelyk. Die verskil tussen die twee waardes (afwyking) word dan deur die reëlaar omgesit in ʼn reëlaksie (regstelling). Daar is twee soorte reëlaars, naamlik aan/af- en proporsionele reëlaars. Die aan/af-reëlaar werk gewoonlik net tussen twee stande (byvoorbeeld deur 'n elektromotor aan of af te skakel), terwyl 'n proporsionele reëlaar op enige punt tussen die stande ook kan werk (deur byvoorbeeld die spoed van die elektromotor te beheer).