Proteïen
protein / From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Proteïen (in Grieks πρωτεϊνη = eerste draad) is 'n komplekse, hoë-molekulêre-massa organiese verbinding wat bestaan uit aminosure verbind deur peptiedbindings. Proteïene is noodsaaklik vir die struktuur en funksie van alle lewende selle en virusse.
Baie proteïene is ensieme of subeenhede van ensieme. Ander proteïene vervul strukturele of meganiese rolle, soos die wat (dwars)verbindings van die sitoskelet vorm en as biologiese ondersteuning dien vir die meganiese integriteit en weefselseinfunksies. Ander funksies wat deur proteïene vervul word sluit in immuunreaksie en die stoor en vervoer van verskeie ligande. In voeding, dien proteïene as die bron van aminosure vir organismes wat nie self die aminosure kan vervaardig nie.
Proteïene is een van die klasse van bio-makromolekule, saam met polisakkariede, vette, en nukleïensure, wat die hoofbestanddele van lewende dinge is. Hulle is van die mees aktief bestudeerde molekules in biochemie, en is in 1838 deur Jöns Jakob Berzelius ontdek.
Byna alle natuurlike proteïene word deur DNS gekodeer. DNS word getranskribeer om RNS te lewer, wat dien as die sjabloon vir translasie deur ribosome.