Posseël
From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Posseël dien as bewys van vooruitbetaling van 'n bepaalde posgeld. Meesal is dit 'n klein reghoekige gegomde stukkie papier met een of meer afbeeldings, wat op 'n koevert of poskaart geheg word om aan te toon dat die afsender reeds vooraf vir die aflewering betaal het.
Alhoewel daar nou in baie lande ook moderne massaseëls met 'n eenvoudige uitleg bestaan, wat in outomate of met spesiale sagteware gedruk kan word, bly tradisionele seëls nog steeds miniatuurkunswerke, wat kulturele, historiese, politiese of ander onderwerpe behandel, historiese gebeurtenisse gedenk of maatskaplike en ander doeleindes met hulle gedrukte boodskap van prente, tekeninge en teks kan bevorder. Die poskantore van die verskillende lande ding gereeld met mekaar mee om die mooiste posseëls uit te reik, en danksy 'n groot aantal seëlversamelaars, wat die seëls koop sonder om van die betaalde diens gebruik te maak, speel seëls ook 'n belangrike ekonomiese rol en is 'n vername bron van inkomste vir baie kleiner lande.