Politieke ekonomie van Suid-Afrika
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Republiek van Suid-Afrika is die belangrikste mynbouland en die enigste land met 'n gevorderde nywerheidsektor op die vasteland van Afrika.
![]() | |
---|---|
Die Politieke ekonomie van Suid-Afrika-reeks | |
|
Vóór die aankoms van die eerste Europese setlaars in die jaar 1652 het net 'n klein aantal Bantoestamme koper, tin en ystererts met primitiewe metodes ontgin. Die intensiewe ontginning van die land se minerale het eers in die 19de eeu danksy die gebruik van moderne tegnologie begin, en goud en diamante het 'n belangrike bydrae tot die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika gelewer.
Tot by die vroeë sewentigerjare van die 20ste eeu het die land se ekonomie in die rigting van 'n nywerheidsland beweeg. Politieke onluste, sanksies en 'n onverantwoordelike makro-ekonomiese beleid het sedertdien 'n negatiewe uitwerking op die ekonomiese ontwikkeling gehad, en Suid-Afrika word nou weer by die ontwikkelende lande gereken.
Terwyl die demokratisering, wat teen die middel van die tagtigerjare as 'n voorvereiste vir ekonomiese groei beskou is, in 1994 plaasgevind het, het die land oor tien jaar sowat 'n vyfde van sy goed opgeleide Blanke bevolking verloor. Die land is nog steeds 'n invoerder van kapitaalgoedere, wat hy met uitvoere van grondstowwe en landbouprodukte betaal. Besparing en belegging is nog steeds te laag, en die groei van die nywerheidsektor sal afhanklik wees van die beskikbaarheid van geskoolde werkers. Tans is daar 'n knellende tekort aan ingenieurs en bestuurders.
Korrupsie, wanbestuur en misdaad is ernstige vraagstukke. Tegelykertyd is die land se ekonomiese toekoms weens die VIGS-epidemie tans nie voorspelbaar nie. 'n Groot gedeelte van die ekonomies aktiewe Swart bevolking sal in die volgende dekades aan VIGS beswyk, sodat beleggings in die opleiding van Swart werkers deur buitelandse ondernemings moontlik nie eers oorweeg sal word nie.