Poësie
literêre styl gekenmerk deur 'n sterk ekspressiwiteit van woorde / From Wikipedia, the free encyclopedia
Poësie (vanaf Grieks poiesis – ποίησις – wat "maak" of "skep" beteken, meer spesifiek, die skep van poësie) of digkuns (vanaf Latyn "dictâre" – wat "om op te skryf" of "om saam te stel" beteken, in Middelnederlands "dichten" - "om te dig")[1] is 'n literêre kunsvorm wat van estetiese en ritmiese eienskappe [2][3][4] of vermoëns van 'n taal gebruik maak – soos eufonie , klanksimboliek en metrum – vir die vooropstelling van betekenisse addisioneel tot, of in die plek van, prosaïes ooglopende betekenisse.
Poësie het 'n lang geskiedenis en dateer terug na die Sumeriese Gilgamesjepos. Vroeë gedigte ontwikkel uit volksliedere soos die Sjinese boek van liedere, of uit die behoefte om mondelinge heldedigte oor te vertel, soos in die geval van die Sanskrit Vedas, Zoroastriese Gathas en die Homeroseposse die Ilias en Odussee. Pogings uit die oudheid om poësie te definieer, soos Aristoteles se Poëtica fokus op die gebruik van spraak in retoriek, drama, liedere en komedie. Latere pogings fokus op kenmerke soos herhaling, versvorm en rym, en lig die estetika uit wat poësie onderskei van meer objektiewe informatiewe prosaïese skryfvorme. Sedert die middel van die twintigste eeu is poësie meer algemeen beskou as 'n fundamentele kreatiewe daad in die aanwend van taal.
Poësie implementeer vorme en konvensies om verskillende interpretasies tot woorde voor te stel, of om emotiewe reaksies uit te lok. Stylmiddele of verdigtings soos assonansie, alliterasie, onomatopee en ritme word soms gebruik om 'n musikale of betowerende effek na vore te bring. Die gebruik van dubbelsinnigheid, simboliek, ironie en ander poëtiese stilistiese elemente laat 'n gedig dikwels oop vir veelvuldige interpretasies. Insgelyks skep metafore, vergelykings en metonimie[5] 'n weerklank of resonansie tussen andersins ongelyksoortige beelde – 'n belaging van betekenisse wat skakels vorm tussen wat voorheen onwaarneembaar was. Verwante resonansievorme kan tussen versreëls, in hul rympatrone of ritme voorkom.
Sekere soorte poësie is spesifiek tot 'n kultuur en genre en is vatbaar vir die karakteristieke van die taal waarin die digter skryf. Lesers wat in die gewoonte is om digkuns met Dante, Goethe, Mickiewicz en Rumi te assosieer kan dit beskou as in versreëls geskryf gebaseer op rym en reëlmatige metrum; daar is egter tradisies soos Bybelse digkuns wat ander metodes gebruik om ritme en eufonie te skep. Heelwat moderne poësie weerspieël kritiek op poëtiese tradisie,[6] en speel met, of toets, onder andere, die beginsels van eufonie self – soms sonder enige inagname van rym of vasgestelde ritme.[7][8] Met die hedendaagse toenemend kleinerwordende wêreld, is digters geneig om vorme, style en tegnieke vanuit ander kulture en tale aan te pas.