Planetêre bewoonbaarheid
mate waarin 'n planeet geskik is vir lewe, of studie van planete wat so geskik kan wees / From Wikipedia, the free encyclopedia
Planetêre bewoonbaarheid is die mate waarin 'n planeet of natuurlike satelliet 'n omgewing kan ontwikkel en handhaaf vir die bestaan van lewe.[1] Lewe kan regstreeks op 'n planeet of maan ontstaan of van 'n ander planeet daarheen verplaas word deur 'n hipotetiese proses bekend as panspermie.[2] Omgewings hoef nie lewe te bevat om beskou te word as bewoonbaar nie en aanvaarde bewoonbare sones is nie die enigste gebiede waarin lewe kan ontstaan nie.[3]
Omdat die bestaan van lewe buite die Aarde onbekend is, is planetêre bewoonbaarheid grootliks 'n ekstrapolasie van toestande op Aarde en die eienskappe van die Son en Sonnestelsel wat gunstig lyk vir lewe om te floreer.[4] Van besondere belang is dié faktore wat komplekse, veelsellige organismes op Aarde onderhou en nie net eensellige organismes nie. Navorsing en teorieë in dié verband is 'n komponent van verskeie natuurwetenskappe, soos sterrekunde, planetêre wetenskap en die opkomende dissipline astrobiologie.
'n Absolute vereiste vir lewe is 'n energiebron, en die idee van planetêre bewoonbaarheid sluit in dat baie ander kriteria nagekom moet word, soos geofisiese, geochemiese en astrofisiese kriteria, voordat 'n hemelliggaam lewe kan onderhou. Nasa het die belangrikste bewoonbaarheidskriteria bepaal as "uitgebreide streke van vloeibare water,[1] toestande wat gunstig is vir die versameling van organiese molekules en energiebronne wat metabolisme handhaaf".[5] In Augustus 2018 het navorsers berig waterwêrelde kan lewe onderhou.[6][7]
Aanduiders van bewoonbaarheid en biosignature moet vertolk word binne 'n planetêre en omgewingsverband.[2] In die bepaling van die bewoonbaarheidspotensiaal van 'n liggaam fokus studies op sy samestelling, wenteleienskappe, atmosfeer en moontlike chemiese wisselwerkings.
Belangrike stereienskappe sluit in massa en ligsterkte, stabiele veranderlikheid en hoë metaalinhoud. Rotsagtige, nat aardplanete en mane met die potensiaal van aardagtige chemie is 'n primêre fokus van astrobiologiese navorsing, hoewel alternatiewe biochemie en ander soorte hemelliggame in meer spekulatiewe bewoonbaarheidsteorieë ondersoek word.
Die idee dat ander planete benewens die Aarde dalk lewe kan onderhou, is antiek. Dit is egter histories 'n filosofiese idee, eerder as een wat op wetenskap gegrond is. In die laat 20ste eeu is twee deurbrake in die veld gedoen. Die waarneming en robotverkenning van ander planete en mane in die Sonnestelsel het kritieke inligting verskaf oor die definiëring van kriteria vir bewoonbaarheid en gelei tot aansienlike geofisiese vergelykings tussen die Aarde en ander liggame.
Die ontdekking van eksoplanete, wat in die vroeë 1990's begin het[9][10] en daarna uitgebrei is, het verdere inligting verskaf vir die studie van moontlike buiteaardse lewe. Dié bevindings het bevestig dat die Son nie uniek onder sterre is in die huisvesting van planete nie en het navorsing oor bewoonbaarheid na buite die Sonnestelsel uitgebrei.