From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Pentakwark is ’n hipotetiese subatomiese deeltjie wat uit vier kwarke en ’n antikwark bestaan wat saamgebind is (in teenstelling met drie kwarke in normale barione). Aangesien die bariongetal van kwarke +1⁄3 en dié van antikwarke −1⁄3 is, sal die totale bariongetal 1 wees, wat as ’n eksotiese barion geklassifiseer sal word.
Michał Praszałowicz het in 1987 die eerste keer die bestaan van pentakwarke voorspel,[1] maar dit was buitengewoon moeilik om te ontdek, en sommige wetenskaplikes het selfs gemeen ’n onbekende natuurwet voorkom die vorming daarvan.[2]
In die middel 2000's het verskeie eksperimente die bestaan van pentakwarke na bewering bevestig,[3] maar latere eksperimente en ’n herontleding van die resultate kon geen bewyse vir die bestaan van die deeltjies oplewer nie.[4]
Op 13 Julie 2015 is twee verskillende pentakwarke na alle waarskynlikheid ontdek in eksperimente by die Groot Hadronversneller,[5] een met ’n massa van 4 449 MeV (byna vyf keer dié van ’n proton) en een van 4 380 MeV. Hulle bestaan uit twee op-kwarke, ’n af-kwark, ’n sjarme-kwark en ’n antisjarme-kwark, wat hulle kwarkonium-pentakwarke maak.[5][6] Die resultate moet nog verder ondersoek word.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.