Panteïsme
From Wikipedia, the free encyclopedia
Panteïsme is 'n geloofsiening dat God en die natuur een en dieselfde entiteit is, dit wil sê God is alles en alles is God. God word nie as 'n persoon gesien nie. Panteïsme as woord word afgelei uit die Griekse woord "pan" wat "alles" beteken en "theos" wat "God" beteken en dus letterlik beteken: "Alles is God". Panteïsme maak dus voorspraak vir die gedagterigting dat 'n mens God beter kan verstaan deur 'n beter begrip van die natuur en die heelal. Panteïste glo nie in 'n persoonlike of antropomorfe god nie. In die strengste sin beteken Panteïsme: God word gelykgestel met die wêreld en alles wat bestaan. In elk van sy manifestasies is dit dus monisties, alhoewel monisme nie altyd panteïsme is nie.
Die panteïsme het in die moderne tyd bekend geword weens die teologiese en filosofiese werk van die 17de eeuse filosoof Baruch Spinoza, wie se Ethica (1678) 'n antwoord was op René Descartes se bekende dualistiese teorie dat die liggaam en gees geskei kan word. Spinoza het die idee gehad dat gees en materie een is, en albei is eienskappe van 'n oorspronklike substansie, God. Gedurende die Romantiese tydperk het panteïsme 'n herlewing beleef en voorsiening gemaak vir die beroemde Pantheismusstreit. Panteïsme is nie dieselfde as Paganisme nie, alhoewel die twee woorde aan mekaar verwant is.