Oriëntale Ortodoksie
From Wikipedia, the free encyclopedia
Oriëntale Ortodoksie is die geloof van die Oosterse Christelike kerke wat net die eerste drie ekumeniese konsilies aanvaar – die Eerste Konsilie van Nicea, die Eerste Konsilie van Konstantinopel en die Konsilie van Efese. Hulle verwerp die dogmatiese definisie van die Konsilie van Chalcedon, wat in 451 n.C. gehou is. Daarom word dié kerke ook soms die Ou Oriëntale, Miafisitiese of Nie-Chalcedoniese kerke genoem. Hulle is ook bekend as die Monofisitiese kerke, maar beskou self dié naam as onakkuraat omdat hulle die leerstellings van beide Nestorius en Eutyches verwerp het.[1]
Die kerke is in volle gemeenskap met mekaar, maar nie met die Oosters-Ortodokse Kerk nie. Versigtige samespreking om gemeenskap met laasgenoemde te herstel het in die middel van die 20ste eeu begin.[2]
Ondanks die moontlik verwarrende naam (die woord "Oriëntaal" is sinoniem met die Ooste) onderskei dit die Oriëntaal-Ortodokse kerke van die Oosters-Ortodokse Kerk. Die Oriëntaal-Ortodokse gemeenskap bestaan uit ses kerke: die Kopties-Ortodokse, Ethiopies-Ortodokse, Eritrees-Ortodokse, Siries-Ortodokse, Malankara-Ortodokse Siriese en Armeens-Apostoliese Kerk.[3] Hoewel die kerke in gemeenskap met mekaar is, is hulle hiërargies onafhanklik.[4]