Marzjana
From Wikipedia, the free encyclopedia
Marzjana, Morana, Marzanna, Mara, Murava, Moréna of Morena is ’n Slawiese godin. Haar presiese funksie is onduidelik. Daar word meestal geglo sy is ’n godin van die oes en van towery. Haar verhouding met Mara, die godin van die dood, is onduidelik; volgens sommige bronne is hulle dieselfde godin. In die laat Middeleeue het sy in Tsjeggiese bronne ’n godin van die winter en van die dood geword. Haar naam is gebaseer op die Slawiese stam mor, wat gebruik word in woorde soos "verwarring", "gevaar", "nagmerrie", "dood" en "pes".
Marzjana se rituele het waarskynlik tot in die Christelike tye oorleef as Maslenitsa, ’n fees van ses of sewe dae wat vroeg in Maart gevier word. Tydens die eerste vyf of ses dae van Maslenitsa word plat blini voorgesit wat glo die Son simboliseer. Op die laaste dag word strooipoppe, wat die winter voorstel, gemaak en aan die brand gesteek of soms "verdrink".
Die "verbranding van Morena" is ’n tradisionele volksfees in Slowakye en Tsjeggië. Die "verdrinking van Marzanna is ’n tradisionele volksfees in sekere dele van Pole. Tydens dié feeste word die lente verwelkom en afskeid geneem van die winter.