Lesbiër
From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Lesbiër is 'n homoseksueel van die vroulike geslag, 'n vrou wat romantiese liefde of seksuele aangetrokkenheid tot ander vroue ervaar.[1][2] Die term lesbiër word ook gebruik om seksuele identiteit of seksuele gedrag uit te druk, ongeag seksuele oriëntasie, en die woord lesbies as 'n byvoeglike naamwoord verwys ook na nonne met 'n homoseksuele voorkeur.[2][3]
Die konsep "lesbiër" is in die 20ste eeu geskep. Deur die geskiedenis het vroue nie dieselfde vryheid of onafhanklikheid as mans geniet om homoseksuele verhoudings aan te knoop nie, maar hulle is ook nie met dieselfde swaar strawwe as homoseksuele mans in sommige samelewings begroet nie. In plaas daarvan is lesbiese verhoudings dikwels as skadeloos en onvergelykbaar met heteroseksuele verhoudings beskou tensy die deelnemers op voorregte aanspraak gemaak het wat tradisioneel deur mans geniet is. Gevolglik is daar deur die geskiedenis min oor die uitdrukking van vroulike homoseksualiteit gedokumenteer. Toe vroeë seksuoloë in die laat 19de eeu homoseksuele gedrag begin kategoriseer en beskryf en hulle taak deur 'n gebrekkige kennis van homoseksualiteit en vroue se seksualiteit bemoeilik is, het hulle lesbiërs as vroue onderskei wat hulle nie aan vroulike geslagsrolle steur nie en hulle verkeerdelik as geestesiek bestempel – 'n etiket wat later deur die globale wetenskaplike gemeenskap verwerp is.
Vroue in homoseksuele verhoudings het op hierdie etiket gereageer deur hulle persoonlike lewens weg te steek of die etiket van uitgeworpenes te aanvaar en 'n subkultuur en identiteit te skep.
Uitbeeldings van lesbiërs in die media dui daarop dat die samelewing tegelykertyd gefassineer en bedreig voel deur vroue wat vroulike geslagsrolle uitdaag, en dat vroue wat romanties by ander vroue betrokke is, die samelewing gelyktydig fassineer en walg. As vroue kom hulle voor ander vraagstukke as mans te staan. Lesbiërs kan spesifieke fisiese of geestelike gesondheidsprobleme beleef wat uit diskriminasie, vooroordele en minderheidstres voortvloei. Politieke toestande en maatskaplike gesindhede het ook 'n invloed op die openlike vorming van lesbiese verhoudings en gesinne.