Lapgesigsmasker
From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Lapgesigsmasker is 'n masker wat van gewone tekstielstowwe, gewoonlik katoen, gemaak word, en wat oor die mond en neus gedra word. Hoewel hierdie soort maskers minder effektief is as chirurgiese maskers of N95 maskers, word dit deur die algemene publiek in huishoudelike opsette en gemeenskapsomgewings gebruik om beskerming te bied teen aansteeklike siektes en lugbesoedelingspartikels.
Vanaf die laat 19de eeu tot die middel van die 20ste eeu is dit op 'n gereelde basis deur gesondheidsorgwerkers gebruik. Gedurende die 1960's het lapgesigsmaskers in die ontwikkelde wêreld in onbruik geraak, weens die ontwikkeling van en voorkeur vir moderne chirurgiese maskers. Die gebruik van lapgesigsmaskers het egter in ontwikkelende lande voortgeduur. Tydens die koronaviruspandemie van 2019-2020 is die gebruik van lapgesigsmaskers weer in ontwikkelde lande as 'n laaste uitweg gebruik, weens 'n tekort aan chirurgiese maskers en respirators.