Inhaca
From Wikipedia, the free encyclopedia
Inhaca (voorheen ook Inyack-eiland genoem) is 'n Mosambiekse nedersetting op 'n subtropiese eiland aan die Oos-Afrikaanse kuslyn. Die naam Inhaca verwys ook na die eiland waarop die nedersetting geleë is (Ilha Da Inhaca in Portugees). Die Inhaca-nedersetting sentreer om 'n sendingstasie en is geleë ongeveer 32 km oos van Maputo in die Maputoprovinsie van Mosambiek. Inhaca-eiland is geleë 26°S, 33°O, en skei Maputobaai (Baia de Maputo) aan die westekant, van die Indiese Oseaan na die ooste. Die eiland van 52 km² het 'n onreëlmatige kuslyn en word van die Machanguloskiereiland op die vasteland geskei deur 'n 500m-breë seestraat te Ponta Torres. Die skiereiland maak deel uit van die Lubombo Oorgrensbewaringsgebied.