![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/3/37/Extant_Strepsirrhini.jpg/640px-Extant_Strepsirrhini.jpg&w=640&q=50)
Halfaap
From Wikipedia, the free encyclopedia
Halfape (Strepsirrhini) is 'n primitiewe groep van primate. Hulle word so genoem omdat hulle baie na ape lyk, maar nie ware ape is nie. Hulle het 'n kleiner, eenvoudiger brein met 'n lang snoet en die reukorgaan is skerper as die van ware ape. Ape en halfape het waarskynlik dieselfde voorouers, wat baie soos die huidige halfape lyk. Ape het egter verder ontwikkel, die brein het vergroot en hulle het handiger met die soek na kos geword. Halfape het die eienskappe van insekvreters behou ('n gepunte bek met baarde en 'n nat snoet) en het 'n kleiner brein. Tog is hulle ook deel van die orde van primate, onder meer as gevolg van hulle hande, voete en plat naels.
Strepsirrhines | |
---|---|
![]() | |
Verskeie halfape | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Suborde: | Strepsirrhini É. Geoffroy, 1812 |
Infraordes | |
†Adapiformes | |
![]() | |
Verspreiding van lewende halfape (groen) en Eoseen-Mioseen fossiele (rooi) |
Halfape leef slegs in die tropiese gebiede van Afrika en Asië. Op al die kontinente is hulle nagaktiewe diere met groot oë. Slegs op die eiland van Madagaskar het spesies wat gedurende die dag aktief is ontstaan. Ware ape het nooit die eiland binnegedring nie, en die halfape hier het dus geen kompetisie van hulle nie. Die halfaap se uiterlike voorkoms wissel van eekhoringagtig tot aapagtig. Hulle is meestal boombewoners en is goed aangepas vir hul lewenstyl. Hulle het opponeerbare duime en groottone (dit wil sê teenoor die ander vingers en tone geplaas) wat dit vir hulle maklik maak om aan takke vas te hou.
Halfape is primitiewe primate (orde Primates). In die Eoseen, toe die hoër primate, die ape, nog nie in groot getalle en wydverspreid voorgekom het nie, het die halfaap die rol vervul wat nou deur die ape vervul word. Later is hulle egter deur die ape en ander mededingers verdring. Met die opkoms van die hedendaagse roofdier (orde Carnivora) is hulle verder uitgedun.
Die halfaap-spesies verskil baie wat uiterlike voorkoms betref. Sommige toon 'n sterk ooreenkoms met die eekhoring, ander lyk meer na die aap, terwyl ander met geen ander dier vergelyk kan word nie. Dié suborde bevat van die kleinste primate, soos die dwergmuismaki (Microcebus murinus), wat maar 13 cm lank is, tot spesies wat langer as een meter word. In die oertye het hulle selfs groter geword.
Die halfape is boombewoners en meestal nagdiere. Hulle is besonder goed aangepas vir hul lewenstyl, met opponeerbare duime en groottone waarmee hulle 'n grypaksie kan uitvoer. Hulle het meestal uitpeuloë wat besonder goed ontwikkel is en waarmee hulle diep in die bosse kan kyk. In teenstelling met ape het nie al hulle vingers naels nie. Die tweede vinger is soms onderontwikkel en eindig in 'n klou; sommige spesies het kloue aan al hul vingers. Hul verwantskap met die insekte-eters blyk hoofsaaklik uit hul gebit en skedelbou.