Frigië
antieke koninkryk in Anatolië / From Wikipedia, the free encyclopedia
Frigië (Grieks: Φρυγία; Turks: Frigya) was in die antieke tyd ’n koninkryk in Sentraalwes-Anatolië, in wat nou Turkye is. Dit was gesentreer om die Sakariarivier.
Frigië | |
---|---|
Antieke koninkryk van Anatolië | |
Frigië tussen die klassieke streke van Anatolië. | |
Ligging | Sentraal-Anatolië |
Taal | Frigies |
Bestaan | c. 1200-700 v.C. |
Hoofstad | Gordion |
Romeinse provinsie | Galatia, Asia |
Verskeie legendariese konings in die Griekse mitologie was Frigiërs: Gordius, wie se Gordiaanse knoop later deur Alexander die Grote deurgekap is, Midas, wat alles waaraan hy geraak het in goud verander het, en Mugdon, wat teen die Amasones oorlog gemaak het.
Volgens Homeros se Ilias was die Frigiërs bondgenote van die Trojane en het hulle in die Trojaanse Oorlog teen die Achajers geveg.
Frigië se mag het in die laat 8ste eeu v.C. sy hoogtepunt bereik onder ’n ander, historiese koning Midas wat die grootste deel van Wes- en Sentraal-Anatolië oorheers het en met Assirië en Urartu meegeding het om mag in Oos-Anatolië. Hierdie latere Midas was egter ook die laaste onafhanklike koning van Frigië voordat sy hoofstad, Gordion, omstreeks 695 v.C. deur die Kimmeriërs verwoes is. Frigië is daarna deur Lidië, Persië, Alexander die Grote en sy Hellenistiese opvolgers, Pergamon, Rome en Bisantium regeer.
Frigiërs is in die vroeë Middeleeue geleidelik in ander volke opgeneem en ná die Turkse volke se verowering van Anatolië het dit as streeksnaam verdwyn.