FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1990
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 14de FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Italiaans: Coppa del Mondo FIFA – Italia ’90; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 8 Junie tot 8 Julie 1990 in Italië aangebied. Dit was die tweede Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Italië aangebied is, ná die 1934-toernooi, en die agtste in Europa. Italië het daarmee die tweede land geword wat die toernooi vir ’n tweede keer gehuisves het, net ná Meksiko in 1986.
Coppa del Mondo FIFA – Italia ’90 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Italië |
Datums | 8 Junie – 8 Julie |
Spanne | 24 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 12 (in 12 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Wes-Duitsland (3 titels) |
Tweede plek | Argentinië |
Derde plek | Italië |
Vierde plek | Engeland |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 52 |
Doele | 115 (2.21 per wedstryd) |
Bywoning | 2 516 215 (48 389 per wedstryd) |
Meeste punte | Salvatore Schillaci (6 doele)[1] |
Beste speler | Salvatore Schillaci |
← 1986 1994 → |
24 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1990 deelgeneem. Die spanne is in ses groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep en die vier beste derde plek spanne na die agtste eindrondte deurgedring het. Wes-Duitsland het die trofee gewen nadat hulle die verdedigende kampioen Argentinië met 1–0 in die eindstryd geklop en sodoende hul derde wêreldbekertitel ingepalm het. Buitendien het Wes-Duitsland die eerste land geword wat vir die derde agtereenvolgende keer die eindstryd gehaal het, nadat hulle ook in die 1982- en 1986-eindstryde verskyn het. Vir die eerste keer nog het dieselfde eindstrydspanne weer die eindstryd gehaal, aangesien Argentinië en Wes-Duitsland ook in die 1986-eindstryd ontmoet het. Wes-Duitsland het ook die eerste Europese span geword wat daarin geslaag het om ’n Suid-Amerikaanse span in ’n eindstryd te klop.[2][3] Die gasheer Italië het in die derde en Engeland in die vierde plek geëindig.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Die nasionale sokkerspanne van Costa Rica, die Republiek Ierland en die Verenigde Arabiese Emirate het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit was die laaste toernooi tydens die Koue Oorlog en sterk mededingende lande soos die Sowjetunie en Tsjeggo-Slowakye het by die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1990 hul laaste verskynings gemaak. Die wêreldkampioen Wes-Duitsland het ook vir die laaste keer opgetree, nadat Duitsland later die jaar herenig is. Om presies te wees het die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1990 vir Duitsland tussen die val van die Berlynse Muur op 9 November 1989 en die Duitse Hereniging op 3 Oktober 1990 plaasgevind.