FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die agtste FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Engels: World Cup 1966 – England) is vanaf 11 tot 30 Julie 1966 aangebied in Engeland, die “tuiste van sokker”. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Engeland aangebied is en die vyfde in Europa. Buitendien was dit die eerste wêreldbekertoernooi in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat in dié land aangebied is; later sou nog ’n aantal krieketwêreldbeker- en rugbywêreldbekertoernooie volg.
World Cup 1966 – England | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Engeland |
Datums | 11 Julie – 30 Julie |
Spanne | 16 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 8 (in 7 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Engeland (1 titel) |
Tweede plek | Wes-Duitsland |
Derde plek | Portugal |
Vierde plek | Sowjetunie |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 32 |
Doele | 89 (2.78 per wedstryd) |
Bywoning | 1 563 135 (48 848 per wedstryd) |
Meeste punte | Eusébio (9 doele)[1] |
Beste speler | Bobby Charlton |
← 1962 1970 → |
16 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966 deelgeneem. Die spanne is in vier groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die uitklopfase deurgedring het. Engeland het die trofee gewen nadat hulle Wes-Duitsland met 4–2 in die eindstryd geklop en sodoende hul eerste wêreldbekertitel ingepalm het. Engeland het daarmee die derde gasheer ná Uruguay in 1930 en Italië in 1934 geword om die toernooi te wen. Die eindstryd word veral vir die omstrede “Wembley-doel” onthou, wat deur Engelse ondersteuners as geldig beskou word, maar nie deur Duitse s’n nie. Daarbenewens is dit die eerste wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het; in 2003 sou nog die rugbywêreldbekertitel volg en in 2019 die krieketwêreldbekertitel. Portugal het in die derde en die Sowjetunie in die vierde plek geëindig. Die verdedigende kampioen Brasilië is reeds in die groepfase uitgeskakel; die eerste keer wat hierdie lot ’n verdedigende kampioen toegeval het.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Die nasionale sokkerspanne van Noord-Korea en Portugal het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem.