Edelstene
From Wikipedia, the free encyclopedia
Edelstene is stene of minerale wat deur hut eienskappe, waarvan skoonheid die belangrikste is, as kosbaar beskou word. Ook die duursaamheid en seldsaamheid sal bepaal of 'n steen as 'n edelsteen gereken kan word. Voorheen is net die baie harde soorte vanweë hul duursaamheid as edelstene beskou. Vandag word ook die sagter stene (die vroeëre halfedelstene en sierstene) en organies gevormde stene, soos pêrels en barnsteen, as edelstene beskou.
Vanweë die skoonheid van suiwer eksemplare, hetsy deur hul kleur of deur hul skittering, is edelstene al van oudsher af in sierade en ander kunsvoorwerpe verwerk. Die gebruik van edelstene was deur die eeue heen aan verskeie "modes" onderhewig en is op 'n verskeidenheid maniere gebruik, byvoorbeeld vir die versiering van beelde en klere. Die gebruik daarvan in die kuns en in die nywerheid, en veral omdat hulle so seldsaam is, het daartoe gelei dat die meeste edelstene baie kosbaar is. Daar word tans verskillende soorte, waaronder ook diamante, sinteties vervaardig.