Diepseeduiker
From Wikipedia, the free encyclopedia
In 1917 is die lynskip Laurentic naby Malin-punt in Noord-lerland getorpedeer. Daar was 'n fortuin aan goud en silwer aan boord, en alles sou verlore gegaan het as die mensdom nie geweet het hoe om in die see af te daal en daar te werk nie. Diepseeduikers soos die een op die tekening regs is na die toneel gebring en het meer as 40 m afgeduik om die stawe na die oppervlak te bring. Dit was 'n reusetaak wat ses jaar in beslag geneem het. In dié tyd het die duikers 3 168 stawe ter waarde van R9 917 416 geberg. Die totale waarde van die muntmetaal aan boord was R10 000 000, wat beteken dat meer as 99 persent van die goud en silwer herwin is. Dit was die waardevolste skat wat ooit deur duikers uit die see gehaal is.
Hierdie artikel moet skoongemaak of andersins verbeter word. Hierdie artikel voldoen nie tans aan die hoë gehaltestandaarde waarna Wikipedia streef nie. Voel vry om self in te spring en verbeterings te maak, en verwyder hierdie kennisgewing ná die tyd. Vir meer hulp, sien die redigeringshulp. Daar is moontlik kommentaar in die artikel of op die besprekingsblad oor wat verbeter moet word. |
In 1940 het die Niagara naby Nieu-Seeland op 'n myn geloop. Staafgoud ter waarde van R5 000 000 het saam met die skip na die bodem gesink. Die wrak het veel dieper as die Laurentic gelê, die water was byna 140 m diep. Op daardie diepte is dit feitlik pikdonker, en die waterdruk is enorm. Paddamanne het al met groot moeite daarin geslaag om tot hierdie diepte af te daal, en 'n kort rukkie daar te vertoef, maar geen diepseeduiker kan op so 'n diepte werk nie.
Hier is 'n ander middel dus gebruik: die duikkamer. 'n Duikkamer is 'n staaltenk met kykpoorte waarin 'n man tot groot dieptes aan kabels neergelaat kan word. In 1972 het 'n duikkamer 5 029 meter diep in die see noord van Hawaii afgedaal om elektroniese toerusting vir die Amerikaanse Vloot te berg - 'n rekorddiepte vir berging m.b.v. 'n duikkamer.
Dit is maar drie van die vele dramatiese voorbeelde van wat duikers met die regte uitrusting kan doen. Duikers is egter ook onontbeerlik vir die baie minder dramatiese take in die moderne wêreld.
Vir feitlik elke soort onderwaterbouwerk word van duikers gebruik gemaak. Hulle help met die bou van hawemure, golfbrekers, damme, met die lê en herstel van kabels, en die inspeksie van skeepsrompe.
Tydens 'n oorlog verwyder hulle ondersese versperrings soos skeepswrakke wat die ingang na hawens versper. Hierdie duikers dra swaar duikpakke met helms. 'n Nuwe soort drukmyn wat ontplof wanneer 'n bewegende skip se drukgolf oor hom gaan, word deur vryduikers opgespoor. Hulle word ook “paddamanne" genoem, en dra hul eie lug of suurstof in silinders met hulle saam. Hulle is dus nie met 'n lugpyp aan die oppervlakte verbind nie en kan vryelik rondswem.