Casa Batlló
From Wikipedia, the free encyclopedia
Casa Batlló is 'n gebou in die sentrale area van Barcelona. Dit is deur Antoni Gaudí ontwerp, en word as een van sy meesterwerke beskou. Dit is 'n verbouing van 'n voorheen geboude huis, wat in 1904 deur Gaudí herontwerp, en daarna verskeie kere opgeknap is. Gaudí se assistente, Domènec Sugrañes i Gras, Josep Canaleta en Joan Rubió, het ook aan die opknappingsprojek deelgeneem.
Casa Batlló | |
Casa Batlló | |
Inligting | |
---|---|
Naam | Casa Batlló |
Dorp/Stad | Barcelona |
Land | Spanje |
Argitek | Antoni Gaudi |
Die plaaslike naam van die gebou is Casa dels ossos (huis van gebeentes), omdat dit 'n skeletagtige, organiese voorkoms het. Die gebou is aan die Passeig de Gràcia in die Eixample-distrik geleë. Dit is een van vier geboue wat langs mekaar geleë is, en saam as die Illa de la Discòrdia (of Mansana de la Discòrdia, die 'blok van disharmonie'), bekend staan. Die vier geboue is deur verskillende Modernista- argitekte van Barcelona ontwerp.
Soos alles wat Gaudí ontwerp het, kan Casa Batlló slegs breedweg as verteenwoordigend van Modernisme of Art Nouveau beskou word. Veral die grondvloer het ongewone dekoratiewe patrone, onreëlmatige ovaalvensters en vloeiende gebeeldhoude klipwerk. Daar is min reguit lyne, en 'n groot gedeelte van die fasade is met kleurvolle mosaïek van gebreekte keramiekteëls (trencadís), versier. Die dak is geboë en word dikwels met die rug van 'n draak of dinosourus vergelyk. 'n Algemene teorie oor die gebou is dat die geronde element op die dak, links van die middel, wat in 'n torinkie en kruis eindig, die spies van Sint George (beskermheilige van Katalonië, Gaudí se tuisstad) verteenwoordig. Daar word geglo dat die spies in die rug van die draak gesteek is.