From Wikipedia, the free encyclopedia
Bosvleis is vleis van wilde diere wat vir menslike gebruik gejag word, veral met wildstropery in Afrika. Bosvleis verskaf diereproteïene en 'n manier om geld te maak aan bewoners van tropiese woudstreke in Afrika, Asië en Latyns-Amerika.[1] Bosvleis is 'n belangrike kosbron vir arm mense, veral in plattelandse gebiede.[2]
Die aantal diere wat in die 1990's in Wes- en Sentraal-Afrika doodgemaak en as bosvleis verkoop is, word as onvolhoubaar beskou.[3] Teen 2005 is die kommersiële handel in bosvleis as 'n bedreiging vir biodiversiteit beskou.[4] In 2016 het uitsterwing 301 soorte aardsoogdiere in die gesig gestaar weens die jag vir bosvleis in ontwikkelende lande, van onder meer primate, ewehoewiges, vlermuise, buideldiere, knaagdiere en karnivore.[5]
Bosvleis vergroot die risiko om verskeie virusse van diere na mense oor te dra, soos die ebolavirus en MIV.[6][7][8]
Na raming word wêreldwyd meer as 1 000 dierspesies geraak deur jagtogte vir bosvleis.[1] Die meeste diere word gevang met vangstrikke waarin enige wildsoort gevang word, maar die doodmaak van groter spesies is gewilder, want meer vleis kan daaruit verkry word.[9]
Die hoeveelheid bosvleis wat aan die begin van die 21ste eeu in Wes- en Sentraal-Afrika verhandel is, is op 1-5 miljoen ton per jaar geraam.[10] In 2002 is bereken altesaam 2 200 000 ton kom elke jaar van die Kongobekken, van 12 938 ton uit Ekwatoriaal-Guinee tot 1 665 972 ton uit die Demokratiese Republiek die Kongo.[11]
Die 301 soogdierspesies wat geraak word, sluit in 126 primate, 65 ewehoewiges, 27 vlermuise, 26 buideldiere, 21 knaagdiere, 12 karnivore en alle ietermagospesies.[5]
Primaatspesies waarvan vars en gerookte vleis in 2009 op 'n wildedieremark aan Liberië se Cavallyrivier verkoop is, het ingesluit sjimpansees (Pan troglodytes) en die ape Cercopithecus diana, C. nictitans, C. petaurista, C. campbelli, Cercocebus atys, Colobus polykomos, Procolobus verus, P. badius. Duikerspesies het meer as die helfte uitgemaak van die 723 diere waarvan die vleis te koop aangebied is.[12] In 2012 is bosvleishandel waargeneem op drie dorpe in die Sassandra-distrik in Ivoorkus. In ses maande se tyd het nege restaurante 376 soogdiere en agt reptiele ontvang, insluitende krokodille, duikers, ape, ietermago's, rotte en meerkatte.[13] Sowat 128 400 vrugtevlermuise van die spesie Eidolon helvum word na raming elke jaar in vier stede in Suid-Ghana as bosvleis verkoop.[14]
In 2006 is geraam dat sowat 1 437 458 diere elke jaar in Nigerië en Kameroen se kuswoude doodgemaak word, insluitende rotte, ietermago's, ape, sivetkatte en olifante.[15]
Tussen 1983 en 2002 het die bevolking van die westelike gorilla (Gorilla gorilla) en die sjimpansee (Pan troglodytes) in Gaboen na raming met 56% afgeneem. Dit is hoofsaaklik meegebring deur kommersiële jagtogte, wat vergemaklik is deur die uitgebreide infrastruktuur vir houtkapperydoeleindes.[16] Die muishond-spesies Atilax paludinosus en Herpestes naso is die klein karnivore wat die meeste op plattelandse bosvleismarkte in die land aangetref word.[17]
In die laat 1990's is die vars en gerookte karkasse van bonobo's (Pan paniscus) in Basankusu in die Kongobekken waargeneem.[18] Die spesies wat die meeste vir bosvleis gejag word in Tanzanië se Katavi-Rukwa-streek sluit in impalas (Aepyceros melampus), duikers (Sylvicapra grimmia en vlaktesebras (Equus quagga).[19]
In 'n opname in Suidwes-Madagaskar is bevind jagters teiken verskeie spesies lemurs en vrugtevlermuise.[20]
Houtkapperykonsessies wat deur maatskappye in Afrikawoude bestuur word, word nou verbind met bosvleishandel. Omdat hulle paaie, vragmotors en ander middele aan afgeleë woude verskaf, is hulle die grootste vervoerders van jagters en vleis tussen woude en stedelike sentrums. Sommige, soos die Congolaise Industrielle du Bois (CIB) in die Republiek die Kongo, werk saam met regerings en internasionale bewaringsorganisasies om die bosvleishandel in hulle konsessiestreke te beheer. Omdat elke land se omstandighede, tradisies en wette verskil, sal geen oplossing egter oral werk nie.[21]
Bosvleis kan 'n belangrike bron van voedingstowwe wees. 'n Studie onder Suid-Amerikaners in die Tres Fronteras-streek het getoon dat mense wat bosvleis eet, 'n kleiner risiko loop om bloedarmoede en chroniese gesondheidsprobleme te hê, want hulle dieet bevat meer yster, sink en vitamien C as mense wat nie bosvleis eet nie.[22]
In Ghana het die oorontginning van hengelgebiede die vraag na bosvleis vergroot. Visvangvlote wat deur die Europese Unie gesubsidieer word en plaaslike kommersiële vlote het die visbronne uitgeput en plaaslike inwoners wend hulle nou tot bosvleis in natuurresevate om hulle dieet aan te vul. Meer as 30 jaar se data verbind die groot afname van soogdier- en 41 wildedierbevolkings met die afname in die beskikbaarheid van vis.[23]
Die nomadiese herders van die grensgebied tussen Soedan en die Sentraal-Afrikaanse Republiek word vergesel van gewapende handelaars wat wildstropery gebruik om groot plantvreters te vang. Die afname in die getalle van die groot eland, buffel, hartebees en waterbok in die Chinko-streek tussen 2012 en 2017 word toegeskryf aan hulle wildstropery.[24]
Dierebronne kon die oorsaak gewees het van aansteeklike siektes soos tuberkulose, melaatsheid, cholera, pokke, masels, griep en sifilis in vroeë landbouers. Vandag word dierebronne verbind met MIV, vigs, ebola en Creutzfeldt–Jakob-siekte.[7] Die meerkatte Funisciurus anerythrus en Heliosciurus rufobrachium is geïdentifiseer as oorsake van die apokkevirus in die 1980's in die Demokratiese Republiek die Kongo.[25]
Uitbrake van die ebolavirus in die Kongobekken en in Gaboen in die 1990's word verbind met die slagting onder bonobo's en sjimpansees.[6] Bosvleisjagters in Sentraal-Afrika wat met die menslike T-limfotropiese virus besmet is, word verbind met blootstelling aan wilde primate.[26] Miltsiekte kan oorgedra word wanneer ewehoewiges geslag en geëet word.
Baie jagters en handelaar is nie bewus van die risiko van die oordrag van siektes nie.[27] 'n Opname in plattelandse gebiede in Nigerië het onthul dat 55% van die deelnemers nie geweet het van oordraagbare siektes nie, maar hulle opvoeding en kultuurtradisies was belangrike dryfvere vir die jag en eet van bosvleis ongeag die gevare daaraan verbonde.[28]
Die resultate van navorsing oor wilde sjimpansees in Kameroen het daarop gedui dat hulle MIV-1 oordra, wat 'n voorloper van vigs in mense is.[29] Daar is verskeie aparte vorme van MIV, wat daarop dui dat dié oordrag tussen spesies verskeie kere voorgekom het.[30] Die Simiaanse immuniteitsgebreksvirus wat in sjimpansees teenwoordig is, stam na berig word af van vorige vorme van die virus wat onder meer in die rooikopmangabie (Cercocebus torquatus) teenwoordig is. MIV is waarskynlik die eerste keer aan mense oorgedra ná kontak met besmette bosvleis.[31]
Die natuurlike bronne van die ebolavirus is onbekend.[32][33][34] Moontlike bronne sluit in niemenslike primate,[32] vlermuise, knaagdiere, skeerbekmuise, karnivore en ewehoewiges.[35] Tussen Oktober 2001 en Desember 2003 het vyf ebolavirusuitbrake voorgekom in die grensgebied tussen Gaboen en die Republiek die Kongo. Lykskouings van die karkasse van wilde diere het bewys sjimpansees, gorillas en duikers is met die virus besmet.[36]
Die ebolavirus is al met bosvleis verbind, met sommige navorsers wat die hipotese geopper het dat vlermuise 'n primêre gasheer van minstens sommige van die vorme van die ebolavirus is. Tussen die eerste aangetekende uitbraak in 1976 en die grootste een in 2014, is die virus net 30 keer van diere aan mense oorgedra, ondanks 'n groot aantale vlermuise wat elke jaar doodgemaak en verkoop is. Vlermuise laat halfgeëte vrugte val, en landdiere soos gorillas en duikers eet dan dié vrugte. Dié ketting gebeure kan dalk lei tot die oordrag van siektes van die natuurlike gasheer tot dierebevolkings.[37] Die vermeende indeksgeval van die ebolavirusepidemie in Wes-Afrika in 2014 was 'n tweejarige seun in Meliandou in Suidoos-Guinee wat in 'n hol boom gespeel het met 'n kolonie vlermuise (Mops condylurus).[38]
In Kameroen is 15 primaatspesies ondersoek vir parasiete van die maagderm. Bosvleisprimate was besmet met Trichuris, Entamoeba, Ascaris, Capillaria en ander wurms.[39] 'n Groot deel van die pofadders wat op plaaslike bosvleismarkte in die Demokratiese Republiek die Kongo verkoop word, is besmet met Armillifer grandis, wat 'n groot gesondheidsgevaar inhou.[40]
Voorstelle vir die vermindering of beëindiging van bosvleishandel sluit in:[41]
'n Alternatief vir bosvleis kan soms wees die teling in gevangenskap van spesies wat tradisioneel gejag word vir bosvleis. Dié teling moet streng gemonitor word sodat dit nie uitgebuit word nie.[22]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.