![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/e/e1/Gedeelte_van_die_wit_konsentrasiekamp_by_Bloemfontein.jpg/640px-Gedeelte_van_die_wit_konsentrasiekamp_by_Bloemfontein.jpg&w=640&q=50)
Bloemfontein-konsentrasiekamp
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die presiese datum van die ontstaan van die Bloemfonteinse konsentrasiekamp – of “refugee camp” soos dit deur die Britte genoem is – is onbekend. Hoewel lord Roberts op 22 September 1900 aangekondig het dat ʼn vlugtelingkamp in Bloemfontein gevestig gaan word, het die kamp volgens E.B. Sargant, die waarnemende direkteur van onderwys vir Transvaal en die Oranjerivierkolonie, reeds sedert Augustus 1900 bestaan. Wat seker is, is dat die Bloemfonteinse kamp minstens teen 12 November 1900 sy beslag gekry het, aangesien maj. Holland Pryor, die assistent-adjudant-generaal van die Oranjerivierkolonie, op hierdie datum in sy verslag meld dat die departement van die hoofprovoos, kapt. Barnett-Hitchcock, verantwoordelik is vir die collection of refugees from various parts of the Colony, and the formation of a camp near Bloemfontein for their accommodation. Daar was trouens toe reeds 519 inwoners in die kamp by Bloemfontein, wat as ʼn vlugtelingkamp vir die gesinne van wapenneerlêers begin het en onder kapt. Nelson van die Imperial Yeomanry se gesag gestaan het.
![](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/e/e1/Gedeelte_van_die_wit_konsentrasiekamp_by_Bloemfontein.jpg/640px-Gedeelte_van_die_wit_konsentrasiekamp_by_Bloemfontein.jpg)
Die primêre vereiste vir die oprigting van vlugtelingkampe was dat hulle binne die “military lines and spheres of protection” moes val. Ingevolge dié beleid sou die ligging van die Bloemfonteinse konsentrasiekamp dan deur die ligging van die Britse militêre kamp bepaal word. Op 15 November 1900 het die dorpsraad sowat 260 hektaar aan die Britse owerheid afgestaan. Dit het van die dorpsgrond se hoekgrens af in ʼn suidwestelike rigting tot by die grens van die plaas Retreat gestrek, dan suidoos langs die spruit af tot by die pomp, en dan weer noordoos langs die Tempe-pad tot by die dorpsgrens. Hier sou die militêre kamp en die konsentrasiekamp nou amptelik hul beslag gekry, hoewel albei toe reeds nieamptelik hier gevestig was.
Op 14 September 1900 het Roberts ʼn stel maatreëls afgekondig wat die lewe van die gesinne van vegtende burgers ingrypend sou verander. Burgerlikes wat deur dié drastiese stappe sonder huis en haard gelaat is, sou gevang en deur konvooie na die kampe gebring word wat oorspronklik vir die sogenaamde “refugees” bestem was. Hiermee het die kamp te Bloemfontein sy karakter as vlugtelingkamp verloor, aangesien die inwoners nou nie meer suiwer vlugtelinge of hendsoppers was nie, maar ook persone ingesluit het wat onder dwang daarheen gebring is. Die oorspronklike handjievol “refugees” is nou verswelg deur die toevloei van nuwe aankomelinge. Die kamp by Bloemfontein het dus pas ná sy stigting reeds die karakter van ʼn konsentrasiekamp aangeneem.