Salvador Dalí
Spaanse skilder (1904-1989) / From Wikipedia, the free encyclopedia
Salvador Domingo Felipe Jacinto Dalí i Domènech (11 Mei 1904 – 23 Januarie 1989), algemeen bekend as Salvador Dalí, was 'n Spaanse kunstenaar en een van die belangrikste skilders van die 20ste eeu. Hy was 'n bekwame tekenaar en die bekendste vir die opmerklike, bisarre en beeldskone beelde in sy surrealistiese werk. Sy vakkundigheid rakende sy skilderwerk word dikwels toegeskryf aan die invloed van die meesters uit die Renaissance-tydperk.[1] Een van sy bekendste werke, "Die volharding van herinnering" (La persistencia de la memoria), is in 1931 voltooi. Sy kunssinnige repertorium het ook rolprente, beeldhouwerk en fotografie ingesluit. Hy het saam met Walt Disney gewerk aan die Oscar-benoemde kort animasierolprent Destino, wat postuum in 2003 uitgereik is. Alhoewel hy in Katalonië, Spanje gebore is, het Dalí op sy Arabiese afkoms aangedring en beweer dat sy voorouers afkomstig was van die More wat Spanje in 711 binnegeval het. Volgens Dalí is sy liefde vir "alles wat verguld en oormatig is, [sy] passie vir luuksheid en [sy] liefde vir Oosterse drag" te danke aan sy Arabiese afkoms.[2]
Salvador Dalí | |
---|---|
Salvador Dalí in 1939 | |
Gebore | Salvador Domingo Felipe Jacinto Dalí i Domènech 11 Mei 1904 |
Sterf | 23 Januarie 1989 (op 84) Figueres, Katalonië, Spanje |
Nasionaliteit | Spanje |
Beroep | Skilder, grafiese kunstenaar, skrywer, beeldhouer en setontwerper |
Bekend vir | Surrealistiese werke |
Eggenoot | Gala Dalí (Elena Ivanovna Diakonova) |
Ouer(s) | Salvador Dalí i Cusí Felipa Domenech Ferrés |
Dalí was bekend vir sy vreemde lewe en gedrag, en ook vir sy lang krulsnor.[3] Die opvatting word wyd gehuldig dat sy oor 'n ryk verbeelding beskik het en hy het 'n voorliefde daarvoor gehad om ongewone dinge te doen om aandag te trek. Hierdie voorliefde het egter liefhebbers van sy kuns net soveel as sy kritici vererg, aangesien sy eksentrieke gedrag soms meer openbare aandag as sy kunswerk getrek het.[4] Hierdie doelbewuste soeke na bekendheid en berugtheid het daartoe gelei dat hy wyd bekend was en mense vanuit alle sfere van die samelewing sy werk gekoop het.