Rugbywêreldbeker 1999
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 1999 (Engels: 1999 Rugby World Cup; Frans: Coupe du monde de rugby à XV 1999; Iers-Gaelies: Corn Rugbaí an Domhain 1999; Skots-Gaelies: Cupa Rugbaidh an t-Saoghail 1999; Wallies: Cwpan Rygbi'r Byd 1999) is van 1 Oktober tot 6 November 1999 in Wallis (nominale gasheer), Engeland, Skotland, Frankryk en Ierland, die destydse Vyfnasies, beslis. Dit was die vierde rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) aangebied word en die tweede in Europa. Al die gashere het ook die Rugbywêreldbeker 1991 gemeenskaplik gehuisves. Dit was die eerste rugbywêreldbekertoernooi in dié sport se professionele era, nadat die IRR ná die Rugbywêreldbeker 1995 met die professionalisering van dié sport begin het.
Rugbywêreldbeker 1999 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Wallis (nominaal) Engeland Frankryk Ierland Skotland |
Datums | 1 Oktober – 6 November |
Aantal nasies | 20 (65 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Australië |
Naaswenner | Frankryk |
Derde plek | Suid-Afrika |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 41 |
Bywoning | 1 750 000 (gem. 42 683 per wedstryd) |
Drieë | 242 (gemiddeld 5.9 per wedstryd) |
Meeste punte | Gonzalo Quesada (102)[1] |
Meeste drieë | Jonah Lomu (8)[2] |
← 1995 |
2003 → |
Die Rugbywêreldbeker 1999 was die eerste toernooi met 20 deelnemende nasionale rugbyspanne, teenoor die 16 van die eerste drie rugbywêreldbekertoernooie. Die nominale gasheer Wallis, die verdedigende kampioen Suid-Afrika, die naaswenner Nieu-Seeland en die derde-plek-span Frankryk het regstreeks vir die toernooi gekwalifiseer, saam met die 16 beste spanne van die kwalifisering (Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Ierland, Italië, Japan, Kanada, Namibië, Roemenië, Samoa, Skotland, Spanje, Tonga, Uruguay en die Verenigde State). Tydens die 1999-toernooi is 41 wedstryde gespeel, waaronder 24 tydens die groepfase, drie tydens die uitspeelrondte en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vyf groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne van die groep gespeel het. Die beste span van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die naaswenners en die voorste derde-plek-span tydens die uitspeelrondte om die oorblywende drie plekke van die kwarteindrondte meegeding het. Die spanne wat tot die kwarteindrondte gevorder het, het regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2003 in Australië gekwalifiseer.
Australië het die eindstryd op Millennium-stadion in Cardiff teen Frankryk met 35–12 gewen en sodoende sy tweede rugbywêreldbekertitel ingepalm, die eerste span wat daarin geslaag het. Hulle het ook die eerste span geword wat dié titel ingepalm het nadat hulle vir die toernooi moes kwalifiseer.[3] Die verdedigende kampioen Suid-Afrika het in die derde en Nieu-Seeland in die vierde plek geëindig. Die halfeindwedstryd wat Frankryk teen Nieu-Seeland met 43–31 gewen het, word as een van die beste wedstryde in die rugbywêreldbekergeskiedenis beskou.[4] Interessant genoeg is die Krieketwêreldbeker 1999 op ’n soortgelyke manier deur vyf Europese lande aangebied (met Nederland pleks van Frankryk) en ook deur Australië gewen, die eerste land wat dit tot dusver kon vermaak om albei wêreldbekertoernooie in dieselfde jaar te wen. Vir Frankryk was dit saam met die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1998 een van twee groot sportkompetisies binne twee jaar en interessant genoeg het die onderskeidelike nasionale spanne die wêreldbekereindstryde in twee van Frankryk se gewildste sportsoorte gehaal; albei behoort tot die mees gesiene sportgeleenthede ter wêreld.
As gevolg van die uitgebreide aantal spanne wat aan die Rugbywêreldbeker 1999 kon deelneem, het dié toernooi met drie nuwelinge die meeste debutante sedert die eerste 1987-toernooi gesien. Die nasionale rugbyspanne van Namibië, Spanje en Uruguay het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem, maar al drie spanne is reeds in die groepfase uitgeskakel. Tydens hierdie toernooi het die Suid-Afrikaanse losskakel Jannie de Beer tydens die kwarteindwedstryd teen Engeland vyf skepskoppe oorgeskop – ’n Suid-Afrikaanse toetsrekord. Die Rugbywêreldbeker 1999 het ook die opkoms van Namibië, wat sedertdien vir elke rugbywêreldbekertoernooi kon kwalifiseer, gesien.[5]