NG gemeente Fort Beaufort
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die NG gemeente Fort Beaufort is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode van Oos-Kaapland. Dit is in 1949 gestig in 'n twee dekade lange tydperk ná die einde van die Groot Depressie in 1933 wat gekenmerk is deur 'n merkwaardige toename in die getal gemeentes in die NG Kerk. In 2016 het die gemeente 200 belydende en 30 dooplidmate gehad.
Destyds was daar net vier Sinodes, naamlik Kaap, Natal, Oranje-Vrystaat en Transvaal. Suidwes-Afrika was deel van die Kaapse Kerk en Rhodesië, Kenia en Tanzanië van die Vrystaatse Kerk. In die Kaapse Kerk is tussen 1933 en 1942 altesaam 97 gemeentes afgestig. In Natal, altyd die kleinste van die Sinodes wat teen 1932 slegs 10 gemeentes gehad het, kom in dié tydperk 'n verdere 16 gemeentes tot stand, maar van 1925 tot 1933 is nie 'n enkele gemeente afgestig nie.
In die Vrystaat (Midde-Afrika ingereken) was daar teen 1932 79 gemeentes met, soos elders, geen afstigtings in 1931 of 1932 nie weens die Groot Depressie, maar in die volgende 20 jaar ontstaan 30 gemeentes. In die Transvaalse Kerk, wat die merkwaardigste groei aangeteken het danksy die grootskaalse volksverhuising uit die ander drie provinsies, was daar teen 1932 slegs 96 gemeentes met ook geen afstigtings tydens 1931 en 1932 nie. Soos in Natal het die gemeentes hier ook tydens die volgende twee dekades meer as verdubbel danksy 111 afstigtings vir 'n totaal van 207, vergeleke met 285 in die Kaapse Kerk. Die 375 gemeentes van 1932 het dus aan die begin van 1952 op 627 te staan gekom.