Lençóis Maranhenses Nasionale Park
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Lençóis Maranhenses Nasionale Park (die naam beteken "Bedlakens van Maranhão") is 'n uitgestrekte duingebied met vaste en rollende wit sandduine wat langs die Atlantiese kus van die Noordoos-Brasiliaanse deelstaat Maranhão, net oos van die Baía de São José, geleë is. Die duine, wat hoogtes van 50 m kan bereik, strek sowat 70 km langs die kus en tot 40 km landinwaarts. 'n Deel van die gebied met 'n oppervlakte van 1 550 km2 is op 2 Junie 1981 tot nasionale park verklaar.
Lençóis Maranhenses Nasionale Park Parque Nacional dos Lençóis Maranhenses | |
---|---|
Land | Brasilië |
Provinsie | Deelstaat Maranhão |
Naaste dorp | Barreirinhas |
Koördinate: 02°32′00″S 43°07′0″W | |
Oppervlak | 1 550 km2 |
Openingsjaar | 1981 |
Bestuursliggaam | IBAMA |
Webblad | Lençóis Maranhenses |
Lençóis Maranhenses is gedurende die Kwartêr oor 'n tydperk van duisende jare gevorm deur riviere, wind en see. Die sand van rivierbeddings, wat by die monding versprei word, word deur sterk winde en seestrominge teruggedra na die vasteland. Hierby speel ook die groot getyverskille in die gebied 'n beslissende rol. Die grootste rivier in die omgewing is die Rio Preguiças wat net buite die nasionale park in die Atlantiese Oseaan uitmond.[1] Klimatiese invloede, wat variasies in die Atlantiese Oseaan se watervlak tot gevolg gehad het, was 'n verdere faktor wat bygedra het tot die vorming van sandduine.[2]
Die sandduine vorm die enigste woestyn in Brasilië, ongeag die hoë jaarlikse reënval van sowat 1 500 mm wat aan die park se ligging naby die Amasonebekken te danke is. Gedurende die reënseisoen tussen Januarie en Mei verhoed ondeurdringbare gesteente dat water die grond kan binnedring. Sodoende ontstaan in die valleie tussen die duine mere en strandmere met kristalblou of groen varswater. Sommige van hulle droog gedurende die droë seisoen weer uit, ander - soos die Lagoa do Peixe of Lagoa Bonita - bevat permanent water.