Krieketwêreldbeker 2031
Krieketwêreldbeker / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 2031 (Engels: 2031 Cricket World Cup) word van Oktober tot November 2031 in Indië en Bangladesj beslis.[1] Dit is die 15de krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die vyfde op die Indiese subkontinent. In dié streek is voorheen die toernooie van 1987 (Indië en Pakistan), 1996 (Indië, Pakistan en Sri Lanka), 2011 (Indië, Bangladesj en Sri Lanka) en 2023 (Indië) aangebied. Daarmee sal Indië die meeste toernooie huisves, een meer as Engeland.
Die artikel beskryf ’n sportgebeurtenis wat in die toekoms gaan plaasvind. Die inligting is moontlik spekulatief en kan vinnig verander soos data beskikbaar raak. |
Die Krieketwêreldbekertrofee waarom meegeding sal word | |
Datums | Oktober – November |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Indië Bangladesj |
Deelnemers | 14 |
Wedstryde gespeel | 54 |
← 2027 2035 → |
Die toernooi se formaat van 2027 bly onveranderd en 14 nasionale krieketspanne neem aan die Krieketwêreldbeker 2031 deel, waartydens 54 wedstryde gespeel word, waaronder 42 tydens die groepfase, nege in die Super Ses, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne word in twee groepe van sewe elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep speel. Die drie beste spanne van elke groep kwalifiseer hierna vir die Super Ses, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte kwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd bestaan uit 50 boulbeurte per span. ’n Soortgelyke formaat is voorheen tydens die Krieketwêreldbeker 1999, Krieketwêreldbeker 2003 en Krieketwêreldbeker 2027 aangewend.[2]